Wees versigtig met belastingvrye beleggings

0
1423

Die 2019/2020-belastingjaar is reeds drie weke oud en baie mense skarrel rond om hul jaarlikse bydrae ‘n belastingvrye belegging te maak.

Ek noem vinnig weer die eienskappe van ‘n belastingvrye belegging: Jy kan R33 000 per jaar tot dié tipe beleggings bydra, met ‘n maksimum van R500 000 in jou leeftyd. Afhangende van die tipe produk wat jy gebruik, kan jy die bydraes jaarliks, maandeliks, of op ‘n ad hoc-basis doen.

Let net daarop dat die Ontvanger van Inkomste jou penaliseer indien jy meer as die toegelate R33 000 tot die tipe beleggings bydra en jou bydraes is ook nie belastingaftrekbaar soos die bydraes op uittree-annuïteite nie. Alle opbrengste (rente, dividende en kapitaalwins) op die beleggings is belastingvry. Onttrekkings wat jy op die beleggings maak, insluitende ‘n maandelikse inkomste, is ook belastingvry.

Uit bogenoemde is dit dus baie duidelik dat jy die tipe produkte vir so ‘n lang moontlike termyn wil laat loop om die maksimum belastingvoordele te geniet. Verder wil jy (eintlik moet jy) die belegging deel van jou aftrede-beplanning maak. Dink aan die genot om met aftrede nie belasting op ‘n groot deel van jou maandelikse inkomste te moet betaal nie.

Omdat jy ‘n belastingvrye belegging deur en deur vir langtermynspaar moet gebruik, bied dit jou die geleentheid om bietjie meer beleggingsrisiko (aandele) te neem, in die najaag van goeie belastingvrye, langtermyn groei.

Ongelukkig is daar mense wat belastingvrye beleggings heeltemal verkeerd aanwend, en instansies/finansiële adviseurs wat belastingvrye beleggings heeltemal verkeerd bemark. Onder geen omstandighede gebruik jy ‘n belastingvrye belegging vir ‘n noodfonds, kinders se studies, vakansies of enige ander kort- of mediumtermyndoelwit nie.

Sodra jy ‘n belastingvrye belegging vir kort- en mediumtermyndoelwitte gaan begin gebruik, gaan jy heeltemal verloor op die langtermyn- saamgestelde opbrengste wat belastingvry is. Verder, indien jy ‘n bydrae tot ‘n belastingvrye belegging maak, net om later weer van die geld uit dié belegging te onttrek, kan jy dit nie weer terugsit nie.

Met ander woorde, jy vermors ‘n gedeelte van jou lewenslange R500 000 limiet, en jy kan dit nie weer herstel nie. Maak dus ‘n belastingvrye belegging deel van jou aftrede-beplanning, en vir jou ander korttermyn-spaardoelwitte, kan jy eerder direk in effektetrusts belê.

horace@nassaux.com