Wees meer waaksaam met jou geld

0
1128

Daar gaan nou al amper nie meer ‘n week verby sonder dat ek met iemand gesels wat met die een of ander bedrogskema om die bos gelei is nie. Gewoonlik is die belofte “‘n belegging met uitstekende opbrengste”.
Natuurlik was daar al heelwat voorbeelde in die verlede waar soortgelyke bedrogskemas tot groot hartseer en spyt gelei het. As die opbrengste wat belowe word te goed is om waar te wees, is dit waarskynlik nie waar nie. Moenie geld daarop waag nie.
Tans gee die R186-staatseffek ‘n koers van 8.86% per jaar, geldmarkfondse gee rondom 7.70% per jaar, en baie banke se vaste deposito’s van vyf jaar is rondom 10% per jaar. Enigiets waarin jy tans meer as bogenoemde belowe word, moet die rooi ligte laat aangaan.
Hoër opbrengste beteken meer risiko, en belaglike opbrengste beteken dat jy gou geld gaan verloor. Natuurlik is bedrieglike beleggingskemas nie die enigste manier hoe swendelaars jou geld kan steel nie.
Die meeste van julle sou al e-posse of SMS’e ontvang het wat jou meedeel dat jy ‘n groot bedrag geld gewen het. Natuurlik is daar ‘n sekere proses wat jy moet volg om die geld te bekom – en so vang hulle jou. In kort, kan jy gerus die volgende wenke onthou (net miskien red dit jou geld, wanneer jy geteiken word):
• Indien jy ‘n e-pos of SMS ontvang wat verdag lyk, vee dit onmiddellik uit. Moet dit nie eens oopmaak nie. Moet ook nooit op enige van dié tipe e-posse of SMS’e reageer nie, want dan gaan jy ‘n teiken word.
• Wees versigtig vir enige e-posse wat vra vir jou persoonlike besonderhede, bankbesonderhede, belastinginligting, eFiling-besonderhede, pinnommer/s, ensomeer. Al het die e-posse jou bank of SARS se detail en embleem op, en al lyk dit hoe na die ware Jakob, vee dit onmiddellik uit. As daar enige twyfel by jou ontstaan, gaan na jou bank of besoek SARS self om enige inligting te gaan verifieer.
• Sekere van die bedrog-e-posse vra jou om op ‘n skakel te kliek, wat jou dan na jou bank, of SARS se webtuiste sal neem waar sekere detail met jou bevestig sal word. Natuurlik is dit ‘n valse SARS- of bankwebtuiste. Moet nooit op sulke skakels kliek nie. Gaan eerder persoonlik na SARS of jou bank.
Wees dus in die algemeen bedag op beleggingskemas met hoë opbrengste en e-posse en/of SMS’e wat jou teiken. Jy sal altyd veilig wees indien jy met groot gerespekteerde finansiële instansies besigheid doen, en natuurlik ‘n betroubare rekenmeester, prokureur en finansiële beplanner het. – HORACE TERRY
horace@nassaux.com