Ds. Stephan van Heerden
Ek lees eenmaal die verhaal van ’n koning wat ’n kloktoring opgerig het. By ’n staatsbanket het hy aan sy onderdane gesê dat hy die klok sou lui op die dag wanneer hy besonder gelukkig voel. Die volk het elke dag geluister of die klok nie miskien sou lui nie, maar nee, alles was stil! Weke en maande het verbygegaan, uiteindelik jare, maar steeds het die silwerklok nie gelui nie. Om sy sterfbed het die mense in trane gestaan. Daar het hy besef dat sy mense hom liefhet en dat dit juis ’n teken van geluk is.
Die klok het gelui. Die tragedie was dat die koning in al die jare nooit besef het dat die mense hom liefhet nie. Dit was ’n lewe van ongelukkigheid en eensaamheid. So is daar baie mense wat hulle hele lewe laat verbygaan sonder om te besef dat iemand hulle liefhet. Hulle besef nie dat ander vir hulle omgee nie. Dalk ken jy vandag iemand wat jy met ’n mooi woord of twee kan moed inpraat. Besoek hulle en vertel vir hulle dat jy omgee. Is dit nie Paulus se bedoeling in 2 Korintiërs 2:8 nie? “Daarom vra ek julle: Bewys liefde aan mekaar (hom)”. Dalk is dit net jou woorde wat die verskil sal maak in iemand se lewe. Deel dit vandag met mekaar!