Wees kreatief en maak geld

0
279
Source: Moneyweb

Wie wil nie elke maand ‘n ekstra geldjie in die sak hê nie? Die lewe is duur en baie van ons lê snags en dink aan ‘n beter lewe en beraam planne hoe om dit te bereik. Jy het waarskynlik ‘n goeie plan om ‘n winsgewende besigheid te begin.

Hoe moet jy te werk gaan? Hier is ‘n paar wenke: As entrepreneur en voornemende besigheidseienaar sal jy deursettingsvermoë moet hê. Jy gaan heelwat negatiwiteit en menings van mense om jou ervaar. Konsentreer op die positiewe. Onthou ook, in die besigheidwêreld is dit 1+1=3. Moenie selfsugtig wees nie; stel vas wat jou swak punte en leemtes is en soek vir jou gepaste vennoot, iemand wat bereid is om in jou besigheid te belê indien nodig, iemand met besigheidservaring of ‘n goeie besigheidsidee wat joune kan aanvul.

So vul jy jou eie vermoëns aan en verminder jy risiko.

Dan, baie belangrik, doen eers ‘n bietjie marknavorsing. Bepaal hoe mense jou idee sien en samel inligting in rondom dit wat jou potensiële klante van jou verwag. Dit sal jou help om jou produk- en/of diensaanbieding te verfyn en jou produk en/of diens reg te posisioneer. Enige besigheid moet bestuur word en die besigheidsaktiwiteite, produktiwiteit en winste moet gemonitor word. Daarvoor moet jy rekenaarvaardig wees.

Indien jy nie is nie, sou dit wys wees om ‘n basiese rekenaarkursus te loop. ‘n Rekenaar, en meer spesifiek, sekere rekenaarprogrammatuur, sal jou help om jou besigheid se syfers te kan interpreteer en sin daarvan te maak en jou help om tendense te identifiseer. Dit sal jou weer verder help om nuwe markte en produkte te identifiseer en bestaande klante beter te diens. Luister altyd na jou klante, moenie hul terugvoer miskyk nie. ‘n Rekenaar (slimfoon of tablet) sal jou ook verder help om die virtuele wêreld van sosiale media te betree waarmee jy klante regoor die land (selfs regoor die wêreld) kan bereik en jou klandisie, produk- en/of dienstereeks kan uitbrei.

Aanvaar dat jy nie onmiddellik suksesvol gaan wees nie. Byt vas en druk deur. Maak seker jy kan vir ‘n onbepaalde tyd oorleef met min of geen winste. Oppas vir persone met onsuiwer bedoelinge wat jou dalk skade kan berokken.

Jou sewende sintuig sal jou waarsku. Praat vroegtydig met ‘n kundige wat jou kan adviseer oor entiteite soos private maatskappye, vennootskappe of eenmansake; hulle het almal voordele en nadele en hul belastingstrukture en regulerende wetgewing verskil.

Indien jy dan ‘n suksesvolle besigheid opbou, verseker die voorbestaan van die besigheid vir jou nageslag. Gee aandag aan jou testament, kontrakte (insluitende ‘n koop-en-verkoopooreenkoms met meegaande lewens- en ongeskiktheidsversekering).

Horace Terry