Wedloop vir Kyra om behandeling te voltooi

0
618
Kyra Burger wat steeds besig is met die DFMO-behandeling. FOTO: iFlair Photography

Kyra Burger, die dapper kankerlyertjie wat reeds soveel harte aangeraak het, en haar familie doen ‘n beroep op alle entoesiastiese hardlopers van Bloemfontein om vir klein Kyra te kom hardloop, draf, stap of kruip op die oggend van 27 Maart 2021.

Volgens haar ma, Mandi Venter, gaan hierdie trail run ‘n fondsinsameling wees om Kyra se DFMO-behandeling (spesifiek vir neuroblastoma-lyers) wat sy in Amerika kry, te voltooi.
Venter het aan Bloemfontein Courant verduidelik die rede waarom hulle steeds fondsinsamelings hou vir Kyra, is omdat hulle nog ‘n paar keer oorsee moet gaan om die behandeling te voltooi.

“‘n Mens moet vyf jaar in remissie wees voordat jy kan sê jy is genees en in daardie tyd kan enige iets nog gebeur. Ek weet die Here het my kind ten volle genees, maar dit is ook ons verantwoordelikheid om alles wat ons as ouers kan, te doen om dit so te hou.”

Sy vertel dat hulle oorsee móét gaan vir die behandeling, wat steeds baie geld kos. “Ons moet dus fondse kry, veral omdat hierdie behandeling belangrik is vir Kyra en ook sal keer dat sy nie ‘n terugslag het nie.”

Die trail run gaan by Bergplaats Hiking Trails plaasvind en daar gaan ‘n lam uitgeloot word. Kaartjies hiervoor kos R50. Registrasie is van 07:00 tot 08:00. Inskrywingsgeld vir vir die 5-km-afstand beloop R50 en vir die 10 km, R100.

Vir meer inligting kan belangstellendes Mandi by 064-680-9544 kontak. Inwoners van ander dorpe is welkom om te ondersteun deur ‘n kaartjie te koop vir die loting.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za