Die 400m-wêreldrekordhouer en Olimpiese kampioen, Wayde van Niekerk, het Dinsdagaand vir die eerste keer sedert Februarie in Suid-Afrika deelgeneem en beïndruk met ‘n goeie wen in Potchefstroom.
Van Niekerk het in baan vyf gehardloop op die Kenneth McArthur-stadion in Potchefstroom in wat die eerste atletiekbyeenkoms was in Suid-Afrika sedert die nasionale Covid-19 inperking begin het. Die Bloemfonteiner was stadig uit die blokke, maar dit het gebeur omdat hy sy wegspringblokke gebreek het toe die afsetter die skoot laat klap het.
Oor die eerste 200m het Van Niekerk die voormalige Suid-Afrikaanse 400m-kampioen, Pieter Conradie, gejaag. Zakithi Nene was egter die naelloper gewees om te klop en dit was slegs oor die laaste 50m waar Van Niekerk sy klas gewys het. Van Niekerk het Nene in die pylvak verbygesteek vir ‘n redelike gemaklike sege in ‘n tyd van 45.89 sekondes.
Die tyd was egter nie beter as die tyd wat hy in September in Switserland behaal het tydens sy amptelike terugkeer tot internasionale atletiek nie. Tydens die Galà dei Castelli-byeenkoms in Bellinzona het Van Niekerk die afstand in ‘n tyd van 45.58 sekondes voltooi.
Dit was Van Niekerk se eerste wedloop in Suid-Afrika sedert hy in Februarie die Vrystaatse kampioenskap in 47.28 sekondes in Bloemfontein gewen het.
Daar is sprake dat Van Niekerk voor die einde van 2020 aan nog ‘n paar byeenkomste sal deelneem met die oog op aanstaande jaar se Olimpiese Spele in Tokio, Japan. – MORGAN PIEK