Wayde waarsku groot name met SA Rekord

0
954
 RUFUS BOTHA

Die stil en teruggetrokke Suid-Afrikaanse 400 m-koning, Wayde van Niekerk (Kovsies) het Saterdag by die IAAF se Diamantliga-atletiekbyeenkoms in New York sy teenstaanders by vanjaar se wêreldkampioenskap in Augustus in Beijing ‘n waarskuwing gerig wat hulle nié kan ignoreer nie: “Klop my eers voordat jy op die podium in Beijing gaan verskyn”.

Nee, die 22-jarige Van Niekerk het dit nie mondelings gesê nie (daarvoor is hy té beskeie), maar sy spykerskoene het dit in New York hard en duidelik uitgespel.

Van Niekerk het die 400m-wedloop in New York in ‘n blitsige 44,24 gewen teen paar groot name in wêreldatletiek en in die proses sy eie Suid-Afrikaanse (SA) rekord (44,38) met 14-honderstes van ‘n sekonde oortref.

Hy het ‘n week voor New York ook die SA-rekord in die seldsame 300 m in Birmingham verbeter na 31,63. Dit alleen het voorspel dat hy moontlik in New York sy beste ooit kan aanteken – so gesê, so gedaan.

Van Niekerk het in New York die voormalige wêreld-binnenshuise 400 m-kampioen, Christopher Brown (Bahamas, 44,74) met ‘n halwe sekonde disnis gehardloop en oor 400 m is dit ‘n lelike opstopper.

Die Amerikaner, Tony McKquay (45,26) moes met ‘n beskeie (in vergelyking met Van Niekerk se wentyd) derdeplek tevrede wees.
Courant het kort na die wedloop met Van Niekerk se deurwinterde en opgewonde afrigter, Ans Botha gesels en wou weet of hulle op skedule is vir ‘n moontlike medalje by die wêreldkampioenskap? “Ek is 100% tevrede, amper té tevrede (met tong in die kies), maar dinge verloop seepglad met die beplanning”.

Sy het voorts gesê: “Om ‘n medalje in Beijing te wen sal Wayde moet gereed wees om onder 44-sekondes te kan hardloop en dit is die doelwit. Ons is werklik geseënd met die beplanning wat so te sê perfek verloop en gaan die volgende wedlope as goeie oefenlopies (tydtoetse) gebruik”.

Botha, wat Sondag buiteland toe gevlieg het om haar aan te sluit by van Niekerk het gesê hulle het nou goeie oefentyd voor hy 4 Julie by ‘n Diamantligabyeenkoms in Parys (Frankryk) gaan deelneem. Daarna beplan hulle nog een wedloop in Europa voordat hy weer die wêreldbestes in die 400 m aanvat by die gesogte IAAF-Diamantligabyeenkoms in London (24 en 25 Julie).

¦ Die oud-Bloemfonteiner en oud-Grey-leerling, L.J. van Zyl het in die einste New York gewys dat hy nog lank nie sy laaste atletiek-asem uitgeblaas het nie. Van Zyl, wat die Suid-Afrikaanse rekord (47,66) in die 400 m-hekkies besit, was in die einste nommer in New York tweede in ‘n belowende 48,78.