Wayde van Niekerk nael Saterdag in Bloemfontein

0
2613
Wayde van Niekerk FOTO: MORGAN PIEK

Die koning van wêreldatletiek in die 400m, Wayde van Niekerk (Kovsies), sal Saterdag in sy tuisstad, Bloemfontein, die eerste keer aan ‘n wedloop deelneem sedert hy in Augustus verlede jaar goud op die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro om sy nek gehang het en op die koop toe die wêreldrekord (43,03) agter sy naam geskryf het.

Van Niekerk se eerste byeenkoms sou aanvanklik volgens sy afrigter, Ans Botha, die Kovsies se tussenkoshuisbyeenkoms (20 Februarie) gewees het, maar sy het aan Courant gesê: “Wayde gaan reeds Saterdag deelneem, slegs as ‘n oefensessie en om aan sy vaart te skaaf. Dit sal ons ‘n goeie aanduiding gee waaraan ons moet werk, alles met die oog op die plaaslike (Suid-Afrikaanse) seisoen en die wêreldkampioenskap later vanjaar.”

Sy het voorts gesê: “Wayde sal Saterdag aan die 100m en 200m deelneem, maar daar is ‘n moontlikheid dat hy ook vir die 400m in die blokke gaan sak. Ons sal eers kyk hoe dit Saterdag gaan voordat ons oor sy deelname aan die 400m besluit.”

Die byeenkoms waaraan Van Niekerk Saterdag deelneem, is die Motheo- en Gariepstreek se Hoërskole-kampioenskap. Die bestuur van dié streek het op versoek goedgunstiglik nommers vir senior atlete op die program aangebring om hulle sodoende die geleentheid te bied om hul peil te toets voor die groot byeenkomste later vanjaar.

Nog ‘n wêreldrekordhouer, Louzanne Coetzee (Kovsies), gaan deelneem. Hierdie algeheel blinde Paralimpiese atleet en wêreldrekordhouer in die 5000m vir atlete met fisieke gestremdhede in die senior vroue-afdeling (T-11-kategorie) gaan haar huidige peil in die 800m vir senior vroue probeer verbeter.

Daar is heelparty senior atlete wat Saterdag hul stemme dik behoort te maak. Atletiekgeesdriftiges kan veral uitsien na die vertonings van die uiters talentvolle Maryke Brits (Kovsies) in die 100m en verspring. Brits is onlangs saam met Van Niekerk in ASA (Atletiek Suid-Afrika) se voorbereidingsgroep vir afloswedlope vir die 2020 Olimpiese Spele in Tokio (Japan) opgeneem en word ook deur Ans Botha gebrei.

Nog ‘n atleet van Botha wat Saterdag sy kleim behoort af te steek is Jovan van Vuuren (Kovsies). Soos Brits, sal hy ook aan die 100m en verspring deelneem. Van Vuuren se opwaarste peil in die verspring is só indrukwekkend dat dit nie as ‘n verrassing gaan kom indien hy vanjaar aan die anderkant van die agt meter-merk in die sandput te lande kom nie. – RUFUS BOTHA
info@bloemfonteincourant.co.za