Wayde se Afrika-rekord staan slegs een dag

0
782
RUFUS BOTHA

Die Bloemfonteinse wêreldklas 400 m-atleet, Wayde van Niekerk het Saterdag by die IAAF-diamantligabyeenkoms in Parys (Frankryk) geskiedenis gemaak toe hy die eerste atleet van die Afrika-kontinent geword het om die einste 400 m onder die magiese grens van 44 sekondes af te blits.

Hy het ‘n rillerwedloop teen die huidige nommer een (tot Saterdag) 400 m-atleet in die wêreld, Kirani James (Grenada) die oorhand gehad en die wedloop op skitterende wyse in ‘n nuwe Afrika-rekord van 43,96 gewen. Hy het in die proses ook sy eie Suid-Afrikaanse rekord (44,24) gerieflik oortref en James (44,17) in die tweedeplek ingenael.

Van Niekerk, wat in baan vyf gehardloop het, het takties ‘n wedloop uit die boonste rakke genael. James was aan sy binnekant (baan 4) en die Bloemfonteiner het sy kans mooi afgewag voor hy met sy finale aanslag op James begin het.

Van Niekerk se ma, Odessa Swarts het aan Courant gesê: “Wayde het kort na die wedloop gebel en gesê hy het doelbewus toegelaat dat James die gaping aan sy binnekant toemaak sodat hy hom kon dophou met 100 m eindstreep toe. Hy het gesê hy het ontspanne gevoel in die wedloop en nie eenkeer gevoel hy hardloop gespanne nie”. James was met 90 m oor sowat ‘n meter voor Van Niekerk toe die Bloemfonteinse sneltrein met sowat 60 m eindstreep toe by James verby is en die koeël deur die kerk gejaag het.

Die Amerikaanse kampioen, David Verburg (44,81) het sowat sewe meter van agter in van Niekerk se rug vasgekyk vir sy derdeplek.
Die Afrika-rekord wat van Niekerk verbeter het, het behoort aan die Botswana-blits, Isaac Makwala wat dié rekord verlede jaar (Julie) met ‘n tyd van 44,01 opgestel het.

Maar, Van Niekerk se Afrika-rekord het slegs ‘n dag op die rekordboeke gepryk toe die einste Makwala besluit het hy gaan weer die vinnigste in Afrika word. Hy het Sondag by ‘n prestige-byeenkoms in Chaux-de-Fonds (Switserland) ‘n uitmuntende tyd van 43,72 vir ‘n oorwinning aangeteken.

Dit maak van Makwala vanjaar se vinnigste atleet in die 400 m in die wêreld met James, wat in Mei 43,95 vermag het tweede op die einste ranglys. Van Niekerk is derde en dié drie 400 m-kanonne het die tafel gedek vir waarskynlik een van die opwindendste 400 m-eindrondtes in ‘n lang tyd by die wêreldkampioenskap wat 20 tot 30 Augustus in Beijing beslis word.

Makwala bevind hom skielik in die vyfdeplek op die wêreldranglys van beste 400 m-atlete van alle tye terwyl James en Van Niekerk ondeskeidelik die sesde- en 11de beste atlete is wat die wêreld nog ondervind het.

Van Niekerk hardloop nog twee wedlope voor hy die manne in Beijing pak – die 14de Julie ‘n 200 m in Lausanne (Switserland) en moenie verbaas wees indien hy die eerste Suid-Afrikaner ooit word om onder 20 sekondes te nael nie. En daarna wag nog ‘n 400 m vir hom by die IAAF-diamantligabyeenkoms in London, Engeland van 24 tot 25 Julie.