Wayde neem eerste tree na Tokio

0
630
Wayde van Niekerk FOTO: EPA/FRANCK ROBICHON

Die Olimpiese 400m-kampioen en wêreldrekordhouer oor dié afstand, Wayde van Niekerk van Bloemfontein, het begin met sy aanspraak op sy titel, wanneer hy dit later vanjaar in Tokio, Japan, gaan verdedig.

Die spoedvraat het Saterdag met ‘n 100-200m-dubbel tydens die Motheo/Xhariep-atletiekbyeenkoms op die Vrystaat-atletiekbaan gespog.

Van Niekerk, wat welbekend is vir sy uithouvermoë en spoed oor die 400m, het egter besluit om aan twee korter afstande deel te neem met sy eerste amptelike byeenkoms.

Met die oggendsessie het Van Niekerk goud beklink in die 200m deur die afstand in ‘n heel ordentlike tyd van 20.31 sek. te wen. Leon James, wat ook vir Kovsies hardloop, het tweede geëindig in ‘n tyd van 21.14 sek., terwyl Unathi Oliphant die item in ‘n tyd van 21.36 sek. voltooi het. Atletiek Suid-Afrika se kwalifiseringstyd oor die afstand staan dié seisoen op 21.35sek.

In die middagsessie het Van Niekerk die dubbel beklink toe hy die 100m in ‘n haastige 10.10 sek. gewen het. In dié proses het hy James, wat die silwer met Gideon Trotter moes deel, weer eens geklop. James en Trotter het albei in 10.49 sek. die wenstreep oorgeseek.
Nog ‘n Kovsies-atleet, Charles Klaasen, het vierde geëindig in 10.91 sek. Van Niekerk het weer die ASA-kwalfiseringstyd van 10.60 sek. geklop.

Interessant genoeg het Van Niekerk vir albei items ingeskryf as Lee-Roy van Niekerk.
Vroeër in die week het Van Niekerk op ‘n grasbaan tydens ‘n Universiteit van die Vrystaat se koshuisbyeenkoms koning gekraai in die 100m in 10.20 sek. Sy tyd is tydens dié nie-ampetelike byeenkoms met die hand geneem.

Van Niekerk het ook tydens die koshuisbyeenkoms aan die 800m deelgeneem en met die louere weggestap in ‘n tyd van 1:57.00 sek.

Hy sal op 28 en 29 Februarie aan die Vrystaat-kampioenskappe in Bloemfontein deelneem waar hy weer in die 400m in aksie sal wees. Hy gaan ook deelneem vir ‘n plek aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe wat van 23 tot 25 April in die Pilditch-stadion in Pretoria gehou sal word. Van Niekerk spog met ‘n persoonlike beste tyd in die 100m van 9.94 sek., wat hy in 2012 in Slowenië gehardloop het. In die 200m is sy persoonlike beste tyd 19.84 sek, wat ook in ‘n stadium ‘n Suid-Afrikaanse rekord was. Sy 400m-wêreldrekord staan op 43.03 sek., wat hy tydens die 2016- Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, Brasilië opgestel het.

Die atleet het oor die afgelope paar jaar bitter min gehardloop weens ‘n kniebesering wat hy in Oktober 2017 opgedoen het tydens ‘n “touch rugby”-toernooi in Kaapstad. Dié besering het daartoe gelei dat hy nie op die 2019-IAAF-wêreldkampioenskap in Doha, Katar, aanspraak kon maak op ‘n derde opeenvolgende wêreldtitel nie. Hy het ook die 2018-Statebond-spele in Gold Coast, Australië misgeloop. – MORGAN PIEK