Wayde ‘n gunsteling vir wêreldkroon

0
2039

RUFUS BOTHA

Die Rosestad se blits, Wayde van Niekerk, het Saterdag vir die laaste keer sy hand opgesteek as een van die groot gunstelinge om as wêreldkampioen gekroon te word in die 400m by die wêreld- senior atletiekkampioenskap wat van 22 tot 30 Augustus in Beijing beslis word.

Van Niekerk, wat vanjaar blyk of hy niks kan verkeerds kan doen nie, het Saterdag in Londen by sy laaste byeenkoms voor die Beijing-verhoog gewys dat hy reg is om die wêreldtitel te buit.

Hy het in die 400m by die IAAF-Diamantligabyeenkoms wéér ‘n skitterende oorwinning behaal en sy passkatting was uit die boonste rakke. Van Niekerk het gewen in 44,63 en hoewel dit nie naby sy beste vanjaar (SA rekord, 43,96) gekom het nie, was dit duidelik dat hy genoeg gedoen het om in Londen oorwinning te smaak.

Dit was ook nie asof groot name dun gesaai was in dié wedloop nie. Die man wat onlangs Van Niekerk se Afrika-rekord (43,96) in die 400m na slegs ‘n klompie ure uit die boeke gevee het met die wêreld se vinnigste tyd vanjaar (43,74), Isaac Makwala (Botswana), was ook in die wedloop. En hy het die voordeel gehad dat hy (baan 4) aan die binnekant van Van Niekerk (baan 5) gehardloop het.

Makwala het bykans soos ‘n besetene uit sy blokke ontplof en was reeds by die 150m-merk aan Van Niekerk se binnekant verby. Dit het beteken dat die Bloemfonteiner reeds ten minste agt meter agter die Botswana-boorling was, maar Van Niekerk het komkommerkoel gebly.

Hy het eers na 200m werklik die krane oopgedraai en die gaping maklik op Makwala toegemaak om langs hom in te trek met 100m om te gaan. Toe was dit neusie verby, want Makwala se vinnige begin het sy tol geëis – van so ‘n aard dat hy slegs vierde kon eindig in 45,29.

Van Niekerk het sy voorsprong met die grootste gerief behou vir sy genoemde wentyd (44,63). En gepraat van groot name, Van Niekerk het die Amerikaanse kampioen, David Verburg (tweede, 45,01), met sowat drie meter kis gehardloop. Chris Brown van die Bahamas was derde in 45,29.

Van Niekerk het na sy oorwinning in ‘n onderhoud vir IAAF se Mathew Quine gesê: “Ek het bietjie traag uit die blokke gekom, ook in die eerste 100m, maar ek het sterk teruggekom.”

Van Niekerk, wat saam met sy afrigter, Ans Botha, in Italië (Gemona) tuis is en voorberei vir die wêreldkampioenskap, het bygevoeg: “Ek gaan nou eers sowat ‘n week ‘n breek neem en daarna net op Beijing fokus.”

Hy het ook gesê dat die feit dat hy tans tweede in die Diamantliga-reeks is het geen invloed op hom nie. “Ek het Europa toe gekom om voor te berei vir Beijing en sover is ek baie geseënd,” het hy bygevoeg.

Indien hy die 400m in Beijing wen sal hy die eerste Suid-Afrikaner ooit wees om ‘n wêreldkampioenskaptitel op senior vlak in die 400m te wen.

Van Niekerk het verlede week slegs die vierde atleet in die wêreld geword om die onderskeiding te behaal om die 200m onder 20 sekondes (19,94) en 400m onder 44 sekondes agter sy naam te skryf.