Wayde klop Akani

0
112
Wayde van Niekerk tydens die VarsitySport Atletiek-reeks FOTO: HANNES NAUDE

Die 400m-wêreldrekordhouer, Wayde van Niekerk van Bloemfontein, het Dinsdag ‘n waarskuwingskoot afgevuur deur die 200m vir mans tydens die ASA Athletix-uitnodigingsbyeenkoms op die Ruimsig-stadion in Roodepoort te wen.

Van Niekerk het die halfbaan-naelloop in 20.10 sekondes gewen, om so sy goeie vriend, Akani Simbine, te klop. Simbine het op sy beurt die tweede plek beklink in 20.29 sekondes.
Die grootste verrassing was toe die Universiteit van die Vrystaat Kovsies-atleet, Tsebo Matsoso, in die derde plek geëindig het in ‘n tyd van 20.48 sekondes.

Die Olimpiese en Wêreldkampioen, Van Niekerk, het gesê dat hy dankbaar is om teen die beste in die land te kon meeding.

“Ek is baie dankbaar vir die wedloop en dit is wat ek nodig gehad het. Ek het vir ‘n hele ruk nie teen atlete van gehalte gehardloop nie. Ek is baie dankbaar dat ek weer kan meeding, en dit basies teen die beste naellopers in die land.”

Van Niekerk het met sy sege die tweede vinnigste 200m van die jaar gehardloop, en hy skryf dit toe aan sy harde werk tydens oefensessies.

“Ek het baie hard geoefen en hard gewerk, maar dit is ‘n ander ding om dit op die baan uit te voer, so ek is bly dat ek dit kon regkry.”

Van Niekerk is beter bekend vir die 400m, maar is ‘n atleet wat al ‘n sub-20 oor die 200m en ‘n sub-10 oor die 100m gehardloop het. Die Bloemfonteiner is van mening dat die 400m steeds sy voorkeur is. Sy doelwit bly dus steeds die 400m, maar hy sê hy sal belê in ander afstande waar hy kan.

In dié stadium is Van Niekerk nog onseker of hy aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe sal deelneem, aangesien hy tans besig is om sy planne om na die VSA te verhuis, te finaliseer. – MORGAN PIEK