E Copy

Date:

Wayde en Maryke Kovsies se Senior Sportsterre van die Jaar

RUFUS BOTHA

Die Kovsies se wêreldklas-400m-atleet, Wayde van Niekerk en die Proteas se netbalkaptein, Maryke Holtzhausen, is verlede Donderdag tydens ‘n luisterryke dinee aangewys as KovsieSport se Senior Sportman en Sportvrou van die Jaar. En tereg ook, want dié twee het vir seker die Kovsies se vaandel hoog laat wapper op internasionale vlak.

Die 22-jarige Van Niekerk het hom ingegrawe as een van die beste 400m-atlete in die wêreld. Hy het vroeër vanjaar by die IAAF-diamantligabyeenkoms in New York die wêreldbestes deeglik van hom laat kennis neem toe hy die Suid-Afrikaanse rekord (44,59) wat reeds 15 jaar op die boeke gepryk het na ‘n blitsige 44,38 verbeter het.

Hy het ook op 3 Julie op drie na die beste 200m-atleet in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse atletiek geword toe hy in Lusanne (Switserland) dié afstand in 20,19 afgenael het.

Van Niekerk het in September sy enorme veggees tentoongestel toe hy vir die Afrikaspan in die laaste skof van die 4 x 400m-aflos by die tussenkontinentale wêreldbekerbyeenkoms van agter af gekom het om Afrika die verrassende kampioen te maak en die gevreesde VSA bloedneus gegee het.

Hy het boonop vanjaar die silwermedalje by die Statebondspele gebuit en was ook op die tweede trappie van die podium by die Afrikakampioenskap.

Van Niekerk se afrigter, Ans Botha, het aan Courant gesê: "Dit was ‘n lang seisoen en dit was moeilik om hom te alle tye ‘n hoë peil te handhaaf, maar Wayde is ‘n harde werker." Die uitslae spreek egter boekdele en Botha het haar vir seker puik van haar taak gekwyt.

Die 27-jarige Holtzhausen, wat nie slegs vir haar skitterende spel en voorgevoel op wêreldnetbalbane bekend is nie, maar ook vir haar puik leierseienskappe (sy lei veral deur voorbeeld), het oudergewoonte ‘n pragjaar agter die blad.

Holtzhausen was kaptein van die Proteas wat in Oktober 2013 in ‘n driehoekige toetsreeks teen Trinidad & Tabago en Engeland gespeel het. Hierdie reeks was een van die beste vertonings wat Suid-Afrika nóg in ‘n netbalreeks vermag het en die Proteas het Engeland, wat toe die derde beste span in wêreldnetbal was, in ‘n naelbyt-eindstryd (39 – 37) geklop.

Holtzhausen het ook die kaptein-armband gedra in die Fast Five Series in Nieu-Seeland in November 2013.

Hierdie aanvallige Kovsie het ook vanjaar die Proteas gelei by die Statebondspele wat in Glasgow (Skotland) beslis is.

Die beskeie Holtzhausen het nadat sy die eerbewys ontvang het, aan Courant gesê: "Ek is dankbaar om dié gesogte eerbewys te ontvang, maar ek

kan dit nie alleen vermag nie. Dis ‘n spanpoging." Sy het in haar toespraak ook die Kovsies se netbalspan wat onlangs die Varsity-beker gewen het groot lof toegeswaai. Sy is een van die afrigters van die span, onder leiding van die hoofafrigter en haar jarelange afrigter, Burta de Kock.

Let wel, al bogenoemde wedstryde is gedurende die tydperk wat KovsieSport in aanmerking neem vir hulle sportsterre van ‘n spesifieke jaar. Vir 2014 was dit 1 Oktober 2013 tot 31 September 2014.

• Die Kovsies se Junior Sportman van die Jaar is ook by die genoemde geleentheid aangewys en dié eerbewys het gegaan aan Driaan Bruwer. Hy het die Suid-Afrikaanse onder 19-krieketspan verteenwoordig wat die junior wêreldbekertoernooi vir die Reënboognasie gewen het.

Share post:

Popular

More like this
Related

Bloemfontein Zoo revamp progresses slowly amid budget constraints

Work is slowly progressing at the Bloemfontein Zoo, but...

Maintaining MMM’s 105 burial spaces ‘a mammoth task’

Residents of Bloemfontein have witnessed the deterioration of the...

Boiler breakdown delays patient meals at Universitas Academic Hospital

Patients at Universitas Academic Hospital have faced delays in...

A decline seen in residential burglaries in Mangaung

Residential burglaries in Mangaung have been an ongoing problem,...