Wayde “draf” 100m in goeie tyd

0
3941

Toe Wayde van Niekerk verlede jaar voor die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro saam met die wêreld se vinnigste man, Usain Bolt, in Jamaika geoefen het, en Bolt op sy tipiese Jamaikaanse aksent gesê het: “This man has got serious speed”, het Bolt dit vir seker nie grappenderwys bedoel nie – hy het geweet waarvan hy praat.

Van Niekerk, die Bloemfonteinse Olimpiese Spele-kampioen, wêreldkampioen en wêreldrekordhouer in die 400m (43,03), het hierdie opmerking van Bolt Saterdag tydens die Motheo-Xhariep-atletiekkampioenskap vir hoërskole deeglik onderstreep toe hy in die blokke gesak het vir ‘n oefenlopie in die 100m vir senior mans.

Die Motheo-Xhariep-byeenkomsbestuur het senior nommers op die program ingesluit om hulle die geleentheid te gun om hulle peil te toets.

In slegs sy tweede byeenkoms nadat Van Niekerk die wêreld laat regop sit het met sy wêreldrekord in Rio, het hy Saterdag met die knal van die skoot uit sy blokke ontplof. Ná sowat 40m het hy egter sy voet van die pedaal afgehaal en met, wat gelyk het na ‘n Sondagmiddaguitstappie, die elektroniese tydapparaat laat stop op ‘n kookwatertyd van 10,24.

Dit was duidelik soos daglig dat hy nie voluit genael het nie en ‘n toeskouer op die paviljoen se klipharde opmerking het dit die beste beskryf: “Die man draf dan!”

Van Niekerk (Kovsies) is gevolg deur Hlapo Rantebane (10,62) en Gideon Trotter (Kovsies, 10,67).

Maryke Brits (Kovsies) het kennis gegee dat sy ‘n taai toffie gaan wees vir haar mededingers in die 100m-hekkies by die nasionale senior kampioenskap. Sy het dié nommer in 13,57 afgeblits. Dié tyd plaas haar onder die voorste 25 atlete van alle tye in Suid-Afrika en sy het beslis nog nie haar beste peil bereik nie.

Brits het ook die verspring in ‘n netjiese 6,16m beklink. Dit is heelwat verder as waarmee sy verlede seisoen afgeskop het en moenie verbaas wees indien sy dié seisoen anderkant die 6,50m-lyn land nie. Goud op die SA senior kampioenskap is ook nie wensdenkery nie.

Soos wat Jovan van Vuuren (Kovsies) Saterdag in die verspring vir mans vertoon het, gaan dit nie etlike jare duur voordat hy een van die bestes in Suid-Afrika word nie.

Hy het Saterdag die toeskouers gaande gehad toe hy met ‘n bulsprong van 7,77m in die sand geland het. Dié vertoning maak hom reeds die 30ste beste verspringer in Suid-Afrika van alle tye, en die land het ‘n ryke geskiedenis in dié nommer.

Van Vuuren het ook met ‘n sprong van ten minste anderkant die 8 meter-merk losgetrek, maar hy het ongelukkig ‘n sentimeter of wat oor die vastrapplank getrap, wat in atletiekterme bekend staan as ‘n “geen-spong”. – RUFUS BOTHA