Wayde bespreek sy kaartjie na Tokio

0
340
Bloemfontein se Wayde van Niekerk sal na vyf jaar die kans kry om sy Olimpiese 400m title te verdedig. FOTO: FRIKKIE KAPP/ BACKPAGEPIX

Die Olimpiese 400m-kampioen en wêreldrekordhouer, Wayde van Niekerk, sal vanjaar sy titel by die Olimpiese Spele in Tokio, Japan verdedig.

Van Niekerk, wat vir ‘n lang tyd met ‘n ernstige kniebesering gesukkel het, het uiteindelik vir die Spele gekwalifiseer tydens sy eerste wedloop oor dié afstand vanjaar.

Van Niekerk het Saterdag die horlosie in Spanje op 44,56 sekondes laat stop. Dit was wel nie naastenby so vinnig soos sy wêreldrekord van 43.03 sekondes wat hy in Rio de Janeiro, Brasilië gehardloop het tydens die 2016-Spele nie, maar hy het 0.34 sekondes vinniger as die kwalifiseringstyd van 44.90 sekondes die eindstreep bereik.

Die Colombiaanse naelloper, Anthony Zambrano, het die wedloop in 44.51 sekondes gewen.
Van Niekerk, wat deesdae in Amerika bly, verteenwoordig steeds die Universiteit van die Vrystaat Kovsies. Hy het die derde oud-Kovsie geword om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer ná die langasem van Bothaville, Gerda Steyn (marathon), en die hokkiester, Nicole Erasmus.

Nadat hy vir die Spele gekwalifseer het, het Van Niekerk gesê dat sy tye kan verbeter, maar vir nou was die belangrikste om sy vliegtuigkaartjie na die Verre Ooste te bespreek.

“Ek het binne die kwalifiserende standaard vir Tokio gehardloop, so die missie is voltooi. Ek oefen goed in dié stadium en ek het geweet dat ek in staat was om 44.56 sekondes te hardloop, en dié tyd is okay, siende dit my eerste 400m in ‘n lang tyd was. Ek hoop om in my volgende kompetisies my tye te verbeter.”

Van Niekerk sal aanstaande week in Lausanne, Switzerland weer in aksie wees. Hy sal daar aan die 400m sowel as die 200m deelneem. Om te kwalifieseer vir die 200m-naelloop in Tokio, sal Van Niekerk die afstand in 20.24 sekondes of vinnger moet aflê. Dit sal egter sy heel laaste geleentheid wees om vir dié afstand te kwalifiseer siende dit ook die laaste dag sal wees vir Olimpiese kwalifisering. – MORGAN PIEK