Wayde behaal ‘n ongekende onderskeiding in wêreldatletiek

0
1453
Wayde van Niekerk PHOTO: ROGER SEDRES

Die 23-jarige supernaelloper van Kovsies, Wayde van Niekerk, het Saterdag op die Vrystaat- senior atletiekkampioenskap in Bloemfontein ‘n onderskeiding (noem dit selfs ‘n ‘nie-amptelike wêreldrekord’) vermag wat geen atleet kon regkry nie.

Hy het in die 100m-eindronde die toeskouers uit hul sitplekke gejaag toe hy die elektroniese tydapparaat op ‘n uitmuntende 9,98 sekondes laat stilstaan het.

Dit maak hom die vierde beste 100m-atleet wat die land nog opgelewer het en is slegs twee honderdstes van ‘n sekonde stadiger as die land se beste naelloper, Akani Simbine, se onlangse Suid-Afrikaanse rekord (9,96). Onthou, Van Niekerk is ‘n 400m-spesialis en is verlede jaar in die einste 400m gekroon as wêreldkampioen toe hy op vier na die beste atleet ooit in die nommer geword het met ‘n tyd van 43,48. Hy het boonop verlede jaar die 200m in die buiteland in ‘n blitsige 19,94 afgeblits. En, dis net hier waar die wêreld-eerste vir Van Niekerk inkom:

Hy is nou die enigste atleet ooit in die geskiedenis van wêreldatletiek wat deur die drie grense van 10 sekondes (100m), 20 sekondes (200m) en 44 sekondes (400m) kon bars met tye van 9,98, 19,94 en 43,48 onderskeidelik.

Dit is interessant om daarop te let dat die wêreldrekordhouer, Usain Bolt van Jamaika, met sy 100m in 9,58 en 200m in 19,19 nie die 400m onder 45 sekondes kon nael nie. Sy beste is 45,28.

Dan is daar nog die legendariese wêreldrekordhouer in die 400m (43,18) en voormalige wêreldrekordhouer in die 200m (19,32), Michael Johnson (VSA). Dié spoedvraat kon op sy beurt nie in die 100m onder 10 sekondes nael nie. Hy beskik oor ‘n loopbaanbeste van 10,09.

Nou vir so ‘n klompie atletiekwiskunde-berekeninge om dié drie manne se vertonings in perspektief te stel om waarskynlik die beste naelloper ooit te bepaal – een wyse van vele: Dit is om hul bestes (100, 200, 400) bymekaar te tel om te sien wie se totale tyd die vinnigste ooit is. Dit werk uit op ‘n tyd oor 700m.

Van Niekerk se bestes (9,98, 19,94 en 43,48) werk uit op ‘n totaal van 73,40 sekondes, wat ‘n stewige ent beter is as Bolt (9,58, 19,19 en 45,28) se 74,05.

Maar, Johnson kraai met dié berekening koning. Sy beste tye van 10,09, 19,32 en 43,18 bepaal ‘n totaal van 72,59 oor die genoemde saamgestelde 700m.

Feit bly staan, Wayde van Niekerk het sy naam verewig in die anale van wêreldatletiek om die eerste mens ooit te word om deur ál drie die magiese grense van 10-, 20- en 44-sekondes in die 100m, 200m, en 400m te bars.

Soos al Van Niekerk se voorbereiding in plek begin val, gaan dié koning van Suid-Afrikaanse atletiek moeilik geklop word in die 400m op die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro (Brazil) in Augustus.

Moenie verbaas wees indien hy vanjaar die eerste man ooit word om die 400m onder 43 sekondes te nael nie. – RUFUS BOTHA