HORACE TERRY
Sanlam Beleggingbestuur het ’n interessante reeks definisies vir verskillende tipes beleggers geformuleer. Watter een is jy?
Konserwatief — Die Versorger
Jy hou van kalmte en wil hê dinge moet uitwerk soos wat jy beplan het. Jy wil die regte keuse maak, ’n keuse wat jou die vryheid gee van voorbereid wees vir die toekoms. Jy hou nie van verrassings nie, en wil hê jou belegging moet bydra tot die rustige, en stresvrye lewe wat jy vir jouself geskep het. Jy hou van roetine en wil gerieflik lewe. Jy wil ’n belegging hê wat so voorspelbaar is as wat die onvoorspelbare toekoms toelaat. Jy begryp dat gerusstelling beteken dat jy moontlik nie reuse-opbrengste sal ontvang nie, maar dat jou kapitaal veilig sal wees, en dat die kans skraal is dat jy geld sal verloor. Jy verkies ’n stabiele inkomstestroom, en is vasbeslote om nie aan jou kapitaal te raak nie.
Matig-Aggressief — Die Selfversekerde
Jy is ’n vasberade belegger wat presies weet wat jy wil hê, en het navorsing gedoen oor hoe jy dit kan bereik. Jy is gewillig om ’n bietjie risiko te loop, maar jy steun sterk op wat jy weet, en wat jy vertrou. Jou hoofdoel is kapitaalgroei om jou ambisieuse, maar realistiese doelwitte te bereik. Jy is gewillig om skommelinge in jou korttermynopbrengste te aanvaar in afwagting van groter opbrengste op die langtermyn, al beteken dit dat jy soms geld sal verloor.
Aggressief — Die Waaghals
Jy is ’n waaghals. Jy verbreek die reëls en is nie bang vir die onbekende nie, want jy weet hoe groot die beloning is as jy jou geld op die regte perd verwed. Jy volg nooit die trop nie, want jy is nie iemand wat as gemiddeld of selfs bogemiddeld beskryf kan word nie, jy wil kop en skouers bo die res uitstaan. Jy dink groot en jy doen groot. Dit beteken egter nie jy is roekeloos nie. Jy doen jou huiswerk en plaas jou belegging by kenners in wie jy vertroue het en gee hulle vrye teuels om te belê soos hulle goeddink. Jy besef dat riskante beleggings geduld verg as jy resultate wil sien. Jy is dus gewillig om vir die lang termyn te belê en sien heeltemal kans vir ’n stamperige rit in afwagting van groter opbrengste oor vyf jaar of langer.
Versigtig — Die Intellektueel
Jy is ’n denker en hou daarvan om jouself te bewapen met die nodige kennis om die wêreld van belegging te verstaan. Jy is versigtig vir risiko, maar jy is nie blind vir die realiteite om in die voortdurend veranderende moderne wêreld te oorleef nie. Jy is bereid om ’n bietjie risiko te loop, maar sien nie kans vir hewige markskommelinge nie. Jy weet daar is baie meer onderstrominge wat wêreldgebeure beïnvloed as wat op die oog af blyk, dus maak jy seker jy bly op die hoogte van strukturele veranderinge in die wêreld, sodat jy nie meegesleur word deur die emosies wat dag-tot-dag-gebeure opjaag nie. Jy wil altyd een tree voor wees, want jy kry gemoedsrus in die wete dat jy voorbereid is op enige gebeure. Jy wil hê jou kapitaal moet veilig wees en verkies ’n betreklik stabiele inkomste, en/of inkomstegroei.
Gematig — Die Entoesias
Jy is oop vir nuwe idees en moontlikhede en benader die lewe met entoesiasme en nuuskierigheid, want daar is soveel om te ontdek in die wêreld. Jy verstaan dat die wêreld ingewikkeld is en dat wispelturigheid aan die orde van die dag is. Daarom wil jy jouself sover moontlik teen die wisselvalligheid beskerm om ’n gladde rit te probeer verseker. Jy besef egter jy sal ’n risiko moet loop as jy jou kapitaal wil groei. Jy soek ’n belegging wat jou vir alle finansiële marktoestande sal posisioneer.