Waterbeperkings ‘n gegewe

0
2276

CHRISTAL-LIZE MULLER

Dis nog onduidelik presies wanneer vlak 2-waterbeperkings in die Mangaung-metro gaan inskop nadat dit verlede Vrydag op ‘n spesiale raadsvergadering vir Bloemfontein, Botshabelo en Thaba Nchu deur die raad goedgekeur is. Munisipale woordvoerder, Qondile Khedama, sê die metro is nie ‘n uitsondering as dit by kritieke waterskaarste weens klimaatsverandering en min reën in Suid-Afrika en in Afrika kom nie. Die metro, soos in enige ander stad in die land, staar uitdagings in die gesig. Hy sê die raad is in die proses om die fynere detail soos onder meer wanneer die beperkings ingestel gaan word en die tydsduur daarvan, vas te stel. Inwoners sal deurgaans op die hoogte gehou word van verwikkelinge.

"Voor die instel van waterbeperkings gaan plaasvind sal ons aan inwoners van die metro verduidelik hoe die proses gaan werk." Hy sê die raad se besluit om beperkings in te stel kom nadat verskeie openbare vergaderings sedert verlede jaar plaasgevind het waarop inligting oor die instelling van waterbeperkings verskaf is.

DA-raadslid vir die metro en ‘n waterkenner, Rossouw Botes, sê die departement van water en sanitasie het reeds die vlak 2-
waterbeperkings aan die metro voorgelê vir die instelling daarvan. Volgens sy inligting gaan die metro glo eers inwoners bewusmaak van die erns van die beperkings waarna ‘"n toetslopie uitgevoer sal word om vas te stel of hulle gehoor gee aan die waterbesparings." Sou inwoners nie saamwerk nie, sal die metro genoodsaak word om die goedgekeurde 20% verhoogde watertarief in werking te stel, sê hy.

Dit kom nadat daar op die raadsvergadering besluit is dat die prys van water met die goedkeuring van waterbeperkings ‘n verdere 20% styg. Dit is buiten die bykans 9% verhoging wat op 1 Julie in werking gestel is met die metro se nuwe begroting vir die 2015/16-boekjaar. Dié verhoging en die inwerkingstelling van vlak 2-waterbeperkings sal by wyse van ‘n amptelike kennisgewing deur die metro geskied.

Botes sê die 20% verhoging kom daarop neer dat inwoners vir 0 tot 6 kiloliter water waarvoor hulle van 1 Julie af R6,52 per kiloliter sou betaal, met waterbeperkings R7,82 per kiloliter gaan betaal.

Vir waterverbruik van 7 tot 15 kiloliter sal inwoners nou R17,89 per kiloliter betaal, eerder as die R14,91 per kiloliter soos wat vir die begroting goedgekeur is. Daarmee saam sal inwoners vir 16 tot 30 kiloliter water se verbruik R18,97 per kiloliter water betaal. Dit eerder as R15,81 per kiloliter, sê Botes.

Volgens hom is dit die eerste keer sedert 1983 dat waterbeperkings in Bloemfontein ingestel is en waterbesparingsmaatreëls is nou van kardinale belang omdat sowat 200 miljoen liter water daagliks in Mangaung verbruik word, terwyl watervlakke van die drie damme wat die metro hoofsaaklik van water voorsien laag is en die eerste lentereën nog ver is.

Botes sê die metro moes al vroeër waterbeperking goedgekeur het. Die DA het al in April 2012 die erns van waterbesparingsmaatreëls onder die metro se aandag gebring. Daar is selfs in Oktober 2013 mosies ingedien dat waterberkings ingestel word nadat gebiede in die metro vir sewe dae geen watertoevoer gehad het nie. Botes sê eers verlede jaar het die metro gehoor gegee aan die DA se pleidooi en openbaredeelnamevergaderings het begin.

Daarmee saam meen hy die situasie is nou slegter as verlede jaar dié tyd toe water noodgedwonge uit die Katsedam in Lesotho losgelaat moes word, terwyl die Welbedachtdam nou op 77,5 staan teenoor 103,7% verlede jaar die tyd. Die Rustfonteindam is nou 21,5% vol teenoor 28,8% verlede jaar, terwyl Knellpoortdam slegs meer as 44% vol is teenoor verlede jaar se 51,5%. Altesaam sewe boorgate van die 25 boorgate wat vir Thaba Nchu in werking gestel is het boonop opgedroog. Water is met tenkwaens aan inwoners verskaf. Die Groothoekdam by Thaba Nchu het ook opgedroog.

Botes sê die waterbeperkings sluit onder meer in:
– Grasperke mag nie natgelei word nie, terwyl plante elke twee dag met ‘n emmer water natgegooi mag word.
– Swembaddens kan nie gevul word nie.
– Voertuie kan een keer per maand met ‘n emmer vol water gewas word, terwyl karwasondernemings by die munisipaliteit aansoek moet doen vir die bedryf daarvan.
– Vensters van huise en geboue mag nie gewas word nie.
– Mense met boorgate moet dit aanmeld en goedkeuring kry by die metro vir die sink van boorgate.

cmuller@centralmediagroup.co.za