Water van Saulspoort-dam vrygestel om VS-dorpe te help

0
234
Die Departement van Water en Sanitasie in die Vrystaat het Maandag 11 November bekend gemaak dat dit vroeër vandeesmaand water vanaf die Saulspoort-dam naby Bethlehem vrygestel het om verligting te bring aan Frankfort, Tweeling en Reitz.

Die departement sê die dam is 80% vol in vergelyking met ander damme in die provinsie. Kommunikasiebestuurder, Larry Crisp, sê Frankfort sal binnekort weer water hê aangesien die water ‘n afstand van 170km moet vloei voordat dit die dorp bereik.

Crisp het verduidelik dat die watervoorsiening in die area negatief beïnvloed is sedert die geskeduleerde onderhoudstaking van die Lesotho Hoogland-waterprojek. Volgens die woordvoerder vir die departement, Sputnik Ratau, het die lae watervlakke in damme, sowel as riviere, ook die waterkwaliteit beïnvloed. Dit nadat die watervlak agter die Frankfort-opgaardam met ongeveer 1,8 meter gedaal het.

Hy sê die provinsie se waterkrisis verskil nie van die res van die land nie en daarom doen die departement ‘n beroep op alle verbruikers om hul watergebruik te verminder en die huidige hulpbronne te bespaar om te verseker dat die provinsie nie ‘n waterskaarsste ondervind nie. Die departement pleit ook by inwoners om lekkende krane in huise te herstel om te verhoed dat water vermors word.

OFM-nuus/Elsabé Richard