Water- en rioolkrisis duur voort in Mangaung

0
43
'n Opbou van water voor 'n stukkende stormwaterdrein van 'n waterlek in Fauna. FOTO: VERSKAF

Die voortdurende waterverliese en rioolstortings wat in die Mangaung Metro Munisipaliteit (MMM) aangemeld is, het ’n onhanteerbare krisis geword.

Volgens Dirk Kotze, wyksraadslid in die MMM, het die ouditeur-generaal berig dat die totale waterverliese in die metro R465 miljoen vir die boekjaar 2022/23 en R1,78 miljard vir die afgelope dekade beloop het.

“Geen volhoubare langtermynbeplanning oor waterinfrastruktuur, algehele gebrek aan instandhouding van die huidige infrastruktuur, vervalle en onherstelbare infrastruktuur, onaanvaarbare vlakke van waterverliese, 41% van water wat verlore gaan as gevolg van waterlekke en gesteelde water, onderbegroting vir infrastruktuur, swak bestuur met beperkte vaardighede, en gebrek aan politieke wil,” het Kotze as oorsake genoem.

‘n Watermeterlek in Fauna. FOTO: VERSKAF

Hy het bygevoeg dat die DA op 12 Augustus 2022 ’n saak aanhangig gemaak het vir die polisie om die sabotasie van waterinfrastruktuur te ondersoek nadat hulle klagtes van inwoners ontvang het. “Die Mangaung-bestuur het toe gesê dat hulle hul ondersoek sal doen, maar tot op hede het ons geen terugvoer van die bestuur of die SAPD ontvang nie,” het Kotze opgemerk.

Hy het bygevoeg dat nog ’n bydraende faktor tot die waterkrisis die bestuur van rioolstortings in ons varswaterbronne is nadat die MMM R70 miljoen ontvang het vir die opgradering van rioolaanlegte.

“Die DA pleit elke jaar by die bestuur om vir proaktiewe instandhouding van wateren rioolinfrastruktuur te begroot, maar dit val op dowe ore. ’n Groot bekommernis is die stormwaterkanaal in Pasteurlaan wat sedert 2016 oorvol riool is wat in die kanaal invloei. Ingenieurskonsultante het reeds in 2021 rooi vlae gehys oor die stand van die infrastruktuur, maar nie eens die nasionale ingrypingspan het probeer om hierdie probleem te takel nie,” verduidelik Kotze.

Bloemfontein Courant het na die MMM uitgereik vir kommentaar oor die water- en rioolkrisis in die metro, maar teen druktyd het hulle nie gereageer nie.

 

Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za