Wat lê voor vir bejaardes in vlak 1?

0
892
Melanie Kramer van Vrystaat Versorging in Aksie

Sedert president Cyril Ramaphosa aangekondig het dat die land na vlak 1 van inperking beweeg, is van die regulasies vir baie mense onduidelik, veral vir bejaarde persone.

Bloemfontein Courant het met Melanie Kramer van Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) gesels oor wat dié regulasies nou behels. Kramer het verduidelik watter regulasies bejaardes nou moet nakom.

Volgens haar volg VVA se bejaardesorg-instellings en ouetehuise die regulasies soos op 11 September 2020 bekend gemaak deur die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling. Dié regulasies laat heelwat meer vryheid toe ten opsigte van beweging van persone.

“Tydens vlak 1 mag inwoners besoekers ontvang en mag hulle ook hul blyplekke verlaat. Daar is egter voorwaardes waarvolgens hierdie besoeke mag plaasvind.

Inwoners mag slegs twee persone per besoek ontvang in sy/haar kamer/woonstel. Alle besoekers moet ’n afpraak maak om te voorkom dat daar nie te veel besoekers opdaag gedurende ’n spesifieke tyd nie.

Elke ouetehuis of bejaardesorgfasiliteit bepaal hoe lank ’n afspraak mag wees maar daar word aanbeveel dat dit nie langer as een uur moet wees nie,” het Kramer gesê.

Sy voeg by dat alle besoekers te alle tye ’n masker moet dra. Besoekers se temperatuur sal gemeet word en hulle sal gesaniteer word by hul aankoms. Besoekers word ook versoek om nie rond te beweeg tussen inwoners nie, maar slegs by een inwoner in sy/haar kamer te kuier.

Wat die bejaardes se beweging betref, het Kramer gesê inwoners mag wel by familie gaan kuier of winkels toe gaan. Inwoners wat uitgaan moet te alle tye hul maskers dra en sal deeglik gesaniteer word sodra hulle terugkeer. Indien inwoners vir langer as ’n week

iewers gaan kuier, mag dit wees dat hulle met hul terugkeer vir ’n tydperk
in kwarantyn geplaas sal word in hul eie kamers. Die rede hiervoor is om te monitor of inwoners simptome ontwikkel en nie die res van die inwoners blootstel aan die virus nie.

Kramer sê die inperking en die pandemie was vir al die ouer mense moeilik. Alle inwoners deur ’n geweldige traumatiese tydperk gegaan omdat hulle geheel en al afgesonder was van hul geliefdes.

“Dit is belangrik dat hulle nou die geleentheid gebied word om weer bande te bou met hul geliefdes en van hul eensaamheid verlos te word. VVA moedig dus familie aan om die inwoners te besoek. Dit moet egter verantwoordelik gedoen word ten einde alle betrokke partye se gesondheid te beskerm en te respekteer.”

Heidre Malgas

heidre@mahareng.co.za