Horace Terry
Wat is jou grootste bate? Die heel meeste van ons sal eerste dink aan dit wat in randwaarde die meeste werd is. Gevolglik sal die meeste van ons seker sê: "My huis." Party se motors is so duur dat dít waarskynlik sy/haar se grootste bate/besitting is. ‘n Paar van ons daarbuite kan ook met duur skilderye of juweliersware sit en dít as ‘n groot bate beskou. Natuurlik spandeer ons duisende rande per jaar op versekering, om onsself finansieel te beskerm teen die vernietiging, beskadiging of diefstal van ons duursame bates. Wat is jou grootste bate? Hoeveel van ons sal antwoord: "My vermoë om ‘n inkomste te kan verdien." Sonder ‘n inkomste sal jy nie eiendom, duur motors of enigiets anders kan bekostig nie. Jou inkomste maak dit dus vir jou moontlik om ‘n bestaan te kan voer en voorsien in jou kleinste tot jou grootste finansiële behoefte. Wat sal met jou gebeur indien jy vandag jou vermoë om ‘n inkomste te verdien verloor? Jy sal waarskynlik finansieel geruïneer wees en indien daar afhanklikes is, sal hulle saam jou geruïneer wees. Skuldeisers sal tou staan voor jou deur en geen genade betoon nie. Wat kan veroorsaak dat jy jou vermoë om ‘n inkomste te verdien, kan verloor? Die mees algemene gebeurtenisse is beserings van enige aard of oorsaak en siektetoestande. Die volgende vraag wat ek dan vra is: "Hoekom verseker jy al jou bates, maar jou vermoë om ‘n inkomste te verdien – dit wat jou die geleentheid bied om die bates te kan aankoop – word nie verseker nie?" Ek weet nie wat is die antwoord nie, maar ek weet dat die meeste mense daarbuite loop rond met die siening dat hulle nie beroepsongeskik sal raak nie, so hoekom geld mors op ongeskiktheidsversekering. Miskien is jy reg, en miskien gaan jy deur jou lewe sonder om ooit enige ongeskiktheidsversekering te benodig. Maar wat as jy nie een van die gelukkiges is nie? Wat as jy een is wat iewers aan ‘n rolstoel gekluister gaan word sonder voldoende finansiële voorsiening? Hoe gaan jou lewe dan verander? Is dit nie dalk die moeite werd om ‘n klein maandelikse bedraggie te allokeer tot ‘n premie op ongeskiktheidsversekering nie. Jy kry dit dalk net nodig.
* Terry is ‘n gesertifiseerde finansiële beplanner en beleggingsadviseur by Nassaux Blouster.
Date: