Wat is in ‘n van?

0
314

“She is an oddball, a sick and confused woman”. So beskryf ‘n prokureur-generaal in die VSA sommer onlangs nog ‘n vrou wat nie haar man se van wou aanneem na hul huwelik nie. “Her need is not for a change of name but a competent psychiatrist”.

Ek het nog altyd gedink die eeue-oue gebruik dat ‘n vrou haar man se van kry na die troue, is ‘n pot bollie. Ek haal my hoed af vir die handjievol vroueregte-vegters wat oor die jare voet dwars gesit het om hierdie gebruik te begin aftakel.

Die Engelse skrywer, Mary Wollstonecraft, was een. Sy het so lank gelede soos 1797, toe sy met die filosoof, William Godwin, getroud is, ondanks felle teenkanting aangehou om haar eie naam en van op dokumente te bly teken.

Deesdae is daar min plekke waar dit wetlik van ‘n vrou vereis word om haar man se van aan te neem na die troue. Vroue kan kies wat hulle wil doen. Daar is selfs lande waar ‘n vrou nie haar eie van mág verander nie.

y vra of ek ‘n feminis is? Ja, ‘n duisend maal ja! Ek lag uit my maag uit as mense my soms by ‘n geleentheid as Mnr. Botha aanspreek. (Dis my vrou se van.)

Ek staan vierkant agter die akademikus en skrywer, dr. Sophie Coulombeau, wat onlangs in ‘n artikel vir die BBC haar standpunt hieroor gedeel het. “Om, wanneer ek trou, afstand te doen van my van,” skryf sy, “sal beteken dat ek ook afstand doen van Sophie Coulombeau, met al die foute, prestasies en resonansies wat onlosmaaklik aan haar gekoppel is.”

Sy gaan voort. “So I will keep the name Coulombeau. I’ll keep it with all its baggage, its embarrassments, its frequent misspellings.” Dan sluit sy af: “En as ek my eie naam en van in die huweliksregister teken, sal ek dink aan die vroue wat dit moontlik gemaak het vir my.”

Dit is my hartewens dat my vier kleindogters eendag hulle van sal behou. Sonder kleinseuns is dit my enigste hoop dat die Grobbelaar-naam sal voortleef.

Albé Grobbelaar