Wat hou 2020 (moontlik) in?

0
287

2019 is verby, en 2020 het afgeskop. Die JSE- Algehele Indeks het ‘n heel skaflike 12.05% vir die 2019-jaar opgelewer, en indien jou belegging blootstelling aan aandele gehad het, behoort jou opbrengste heel aanvaarbaar te lyk.

Met ‘n gemiddelde inflasiekoers van rondom 4% vir 2019 (Desember 2019 se syfers is nog uitstaande), sou jy dus effens ryker geword het in 2019.

‘n Mens kan nie help om te wonder wat 2020 vir die wêreld inhou nie, en hoe dit my en jou se welstand gaan raak aan die einde van die dag nie. Die Verenigde Koningkryk se Financial Times (FT) maak jaarliks 20 voorspellings vir die nuwe jaar, en het vir die 2019-jaar 16 uit 20 (80%) korrek gehad.

Hul 20 voorspellings vir 2020 is onlangs bekend gemaak, en is nogal redelik belyn met algemene verwagtinge. Besoek gerus die FT se webtuiste by www.ft.com om meer te lees oor die voorspellings. Hier volg egter ‘n opsomming van die wat vir my interessant was:
Volgens die FT gaan Boris Johnson ‘n handelsooreenkoms met die Europese Unie bereik. Dit sal natuurlik in albei die Verenigde Koninkryk en die Europese unie se guns wees indien ‘n handelsooreenkoms bereik kan word.

‘n Dreigende resessie wag om in die VSA toe te slaan, alles dui daarop. Volgens die FT gaan dit egter nie in 2020 gebeur nie. Die VSA se werkloosheid is op ‘n laagtepunt, en daar word tans werk in die armste van gemeenskappe geskep. Slegs verbruikerspandering kan dus die VSA red van ‘n resessie in 2020.

Gaan Indië weer die vinnig groeiendste groot ekonomie wees? Nee, sê die FT, daar is steeds te veel ernstige probleme met Indië se bank- en finansiële sektore, en die eiendomsmark trek swaar.

Aan die tegnologie-kant verwag die FT dat China in 2020 die wêreldleier op die gebied van 5G-tegnologie gaan word en supervinnig internetkonnektiwiteit wêreldwyd gaan verskaf. Oliepryse gaan ook geen skok ervaar nie en behoort 2020 af te sluit onder $65 per vat.

Dan die boerpot-vraag: Gaan Suid-Afrika afgegradeer word na rommelstatus? Volgens die FT gaan dit beslis in 2020 gebeur. Daar is doodeenvoudig net te veel staatsbeheerde ondernemings wat nie kop bo water kan hou nie en natuurlik help die voortslepende beurtkrag nie ‘n reeds sukkelende ekonomie nie.

Hoe die regering ‘n afgradering gaan vryspring weet niemand nie, die regering die minste van almal…

Kom ons kyk hoe akkuraat is die voorspellings deur die Financial Times. Sterkte en voorspoed vir 2020, ek hoop ons gesels weer so lekker soos in 2019.

Horace Terry