Wat het jou sak geraak in 2018?

0
369
Photo: IndiaMART

Ek wil nie sê 2018 was ‘n moeilike jaar nie, want daar was al jare wat ons heelwat swaarder getrek het, maar dit was vir seker ook nie ‘n maklike jaar nie.

Soos altyd was daar kerngebeurtenisse wat ons almal se sakke positief of negatief geraak het. Soms vind iets aan die ander kant van die wêreld plaas, en met ‘n hele string kettingreaksies, raak dit jou hier in Suid-Afrika aan die einde van die dag.

Sanlam Investments het ‘n paar groot of belangrike gebeurtenisse geïdentifiseer, en ek deel dit graag met jou.

Op 5 Julie 2018 sluit die Shanghai-indeks op sy laagste vlak sedert Maart 2016, in afwagting op die invoertariewe wat Donald Trump op Chinese goedere wil hef. Natuurlik beïnvloed die handelsoorlog vandag nog finansiële markte wêreldwyd, en raak dit so ook jou geld in jou aftreefonds.

Op 9 Julie 2018 stel Recep Tayyip Erdogan, die Turkse president, sy skoonseun aan in ‘n belangrik ekonomiese pos. Dit lei daartoe dat die Turkse-geldeenheid, die Lira, die meeste val sedert ‘n mislukte staatsgreep in 2016. Gevolglik ervaar alle geldeenhede van opkomende markte ook druk, en verswak.

Op 12 Julie 2018 breek die nuus dat die Suid-Afrikaanse mynbouproduksie 2.6% laer is, as ‘n jaar gelede. Dit was te danke aan goud wat met 16.2% geval het, en steenkool met 4.2%. Natuurlik ervaar ek en jy die effek op ons spaargeld toe sekere aandele se pryse val.
Op 31 Julie 2018 styg Suid-Afrika se werkloosheidsyfer tot 27.2%. Ons almal weet wat gebeur as werkloosheid styg – misdaad (onder meer) styg ook.

Op 15 Augustus 2018 val die prys van koper tot onder die vlak van $ 6 000 per metriese ton. Koper is ‘n belangrike indikator van die vraag na hulpbronne wêreldwyd.

En op 15 Augustus 2018, gebeur iets wat ons spaargeldjies seker die meeste geraak het – die tegnologie-maatskappy, Tencent, waarin Naspers ‘n groot aandeel besit – se wins val vir die eerste keer in bykans ‘n dekade. Dit het neergekom op ‘n $160 miljard val in markwaarde vir Tencent. Gevolglik het Naspers se aandeelprys onder druk gekom, en ook geval.

Daar was nog ‘n aantal ander groot gebeurtenisse en 2018 is nog nie verby nie; so kom ons kyk wat gebeur verder.

horace@nassaux.com