RISNA OPPERMAN
Die weer is altyd onvoorspelbaar hierdie tyd van die jaar en kan menige tuinier in diep depressie laat verval. Alles begin vaal vertoon, tog is dit nog nie tyd om uit te ruk en skoon te maak nie. Dit is nog nie regtig winter nie, maar die uitwerking van die koue nagte is reeds op menige plante se blare te sien. Die perfeksionis in ons wil graag die dooie blare afhaal en begin skoonmaak. Hou egter in gedagte dat die blare wat dan blootgestel word, weer gaan skade opdoen en sodoende word ‘n groter deel van die plant beskadig. Dit plaas die plant onder groter druk en verminder die kans op herstel na die winter. Daar is egter baie wat gedoen kan word om te verseker dat die “winter-blues” ‘n mens nie in die herfs oorval nie. Dien hierdie week vir ‘n laaste keer kunsmis toe – ‘n goeie organiese opsie is Neutrog Bounce Back. Daarna sal die volgende toediening eers weer in Augustus wees. Jou grasperk moet ook nou onder so min druk as moontlik geplaas word. Lig die grassnyer lemme en/of sny die gras minder gereeld. Die boonste lae gras beskerm die onderste laag asook die wortels. Kikoejoe herstel veral baie vinnig na die winter as die wortels gevestig is. Moenie ophou water gee deur die winter nie, hoewel dit nie nodig is om dieselfde hoeveelhede te gee as in die somer nie. Een van die vrae wat ‘n mens die meeste in die kwekery kry is wanneer om plante te plant en te verplant. (Dis natuurlik naas “Watter plant gaan heeljaar blom, altyd groen bly, ewe goed vertoon in die vol son as in vol skadu en dit alles natuurlik sonder om dit water of voeding te gee?”). Plante wat in ‘n plantsakkie beskikbaar is, kan enige tyd van die jaar geplant kan word. Die wortels in die sakkie is kompak en veral die haarwortels is naby aan die plant. Dit stel die plant in staat om onmiddelik water en voeding op te neem sodra dit geplant word. Maar met verplanting is die wortels reeds wyer verspreid in die soeke na water en kos. Hierdie wortels word beskadig en/of afgekap met verplanting en die plant het dus ‘n baie kleiner kans om voeding op te neem sodra dit verplant is. Die heel beste tyd vir verplanting is as die grondtemperatuur laag is en die plant so te sê “hiberneer” – normaalweg einde Junie tot middel Augustus in die Vrystaat. Herfs en winter is nie altyd vaal nie en heelwat kan gedoen word om die landskap op te helder. Gesiggies is sekerlik die dankbaarste winterplant en verskaf kleur op die vaalste dae. Selfs op ‘n koue oggend met ryp op die blare sal dit kop optel en die gesiggie na die son draai met die helderste kleure denkbaar. Dan is daar natuurlik ook bolle – kyk gerus op die aanwysings watter variëteite nog geplant kan word. Bolle is helder en vrolik en verskaf kleur wanneer somer blomdraers ‘n bietjie rus. Plant bolle in massas om kleureprag te verskaf wat jou bure sal laat swymel.