Wat gebeur in ons ekonomie?

0
1277

Horace Terry

Ten tyde van die skryf van hierdie artikel was die nuus reeds bekend dat inflasie onveranderd gebly het op 5.9%, maar ek weet nog nie wat die Reserwebank se beleidskomitee besluit het oor rentekoerse nie. Ander ekonomiese hoogtepunte, of laagtepunte, word egter in hierdie artikel saamgevat. Kom ons begin sommer met goud, een van Suid-Afrika se belangrikste en grootste uitvoerprodukte. In April het beleggers in hulle hordes uit goud uitbeweeg en is die ergste prysdaling in 30 jaar ervaar. In die middel van April het die goudprys met meer as $200 gedaal binne net drie dae. Die daling kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die moontlikheid dat Ciprus sy goudreserwes wou verkoop om sy reddingsplanvereistes te befonds.

Terselfdertyd het die olieprys in April sterk gedaal met $110.79 per vaatjie na $102.37 per vaatjie, 7.6% afname. Die daling was te wyte aan swakker vraag en negatiewe verwagtinge ten opsigte van wêreld- ekonomiese groei. Voertuigverkope, wat ’n belangrike ekonomiese indikator is, het in April goed vertoon en totale voertuigverkope het met 19.5% gestyg jaar-op-jaar, dit nadat daar in Maart ’n 2.1% inkrimping was.

Passasiersvoertuie het met 16.4% toegeneem jaar-op-jaar en kommersiële voertuie met 26.6% jaar-op-jaar. Voertuigverkope is die laaste tyd heelwat ondersteun deur die deurlopende lae rentekoerse wat ons ervaar. Daar was ’n effense afname in ons handelstekort na R7.8 miljard teenoor die R9.8 miljard van Februarie. Die afname in die tekort was hoofsaaklik te danke aan ’n groei van 4.3% in Suid-Afrika se uitvoere. Die produkte wat die meeste tot Suid-Afrika se uitvoere bygedra het is voertuie (insluitend onderdele), landbouprodukte en chemiese produkte.

Natuurlik het die depresiërende rand ook gehelp dat ons bietjie meer rande vir ons uitvoere ontvang, maar aan die ander kant meer moes betaal vir ons invoere. Dit is opvallend hoe die rand die laaste paar jaar stelselmatig verswak het. Die rand was byvoorbeeld op 30 April 2011 R6.56 teenoor ’n VSA$, teen 30 April 2012 het dit verhandel teen R7.77 vir ’n VSA$, en teen 30 April 2013 het dit nog verder teruggesak tot R8.98 vir ’n VSA$. Soos ek nou hier sit, verhandel die rand teen R9.63 teenoor die VSA$. Dit is belangrik dat beleggers hulle verskans teen ’n verswakkende rand, maar volgende week meer hieroor.
* Terry is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en beleggingsadviseur by Jenwil Blouster.