Wat beskaafd was in 1945

0
522

Die routyd van ‘n weduwee in die moderne tyd word vir een jaar bepaal. En as ‘n weduwee weer trou, word die troukoek nét met ornamente versier, géén lemoenbloeisels nie.

Daar is ook heelwat ooreenstemming tussen die huwelik van ‘n weduwee en ‘n geskeide vrou. Die geskeide vrou se trouseremonie moet so beskeie moontlik wees sodat mense nie dink “sy ‘n spel maak van die huwelik en die liefde” nie.

Die boek waaruit hierdie voorskrifte kom, het in 1945 verskyn en is getiteld Beskaafde Maniere. Dis skreeusnaaks om nou, na meer as sewentig jaar, te lees wat destyds as etiket en goeie maniere beskou is.

Daar is ‘n hele afdeling oor jong dames wat self wil betaal as hulle “deur here genooi word vir ‘n uitstappie of aandjie uit”. Die skryfster, Annette Terblanche, verwys na die “groeiende onafhanklikheidsdrang” van die vrou. Sy het ook ‘n vermaning vir mans: “Dit is ‘n eienskap van die welopgevoede heer dat hy geen ‘beloning’ in die vorm van soene en omhelsings van ‘n dame verwag net omdat hy betaal het vir die aand nie.”

As jy ‘n heildronk by ‘n troue instel, moet jy “tranerige sentimentaliteit” vermy en pasop vir ‘n vleiery. ‘n Paar woorde oor “die deugde van die toekomstige huisvrou” is belangrik. As die bruidegom dan antwoord, bedank hy die insteller en “vra hy die here om te drink op die gesondheid van die strooimeisies van vandag – die bruidjies van môre”. Net so!

Daar is ‘n ouwêreldse sjarme aan die taalgebruik. Uitdrukkings soos kiesheid van gedrag, en woorde soos karakterkwaliteite, edelmoedigheid en ridderlikheid kom gereeld voor. So baie van wat hier voorgeskryf word, geld eintlik steeds. “In elke skool behoort vaste ure afgesonder te word om kinders op hierdie gebied behoorlik voor te lig.” (As dit maar nog vandag kon gebeur.)

Met nuwe intrekkers in jou straat is die reël dat minstens ‘n week gewag word voordat jy hulle besoek, sodat hulle “kans kry om eers die huis in orde te bring”.
Ek wag nou al twee jaar dat my bure moet kom kennis maak.

Albé Grobelaar