Wansbury behaal driekuns by sone-atletiek

0
620
Charné Wansbury (Oranje) het Saterdag by die Motheo/Gariep Sone-1 atletiekkampioenskap gewys dat sy ‘n blink toekoms het. Sy het die in die 100m, 200m en 400m vir meisies 14-jaar uitmuntende tye losgenael en met dié tye haar hand hoog opgesteek as ‘n moontlike groot naam in Suid-Afrikaanse atletiek in die toekoms. FOTO: JEAN DU PLESSIS

Die geskiedenis het hom al bewys dat hulle kom en gaan en slegs ‘n handjievol puik jong atlete uiteindelik deurdruk tot goeie nasionale senior atlete. Een ding is gewis, die uiters talentvolle graad 8-leerder van die Hoër Meisieskool Oranje, Charné Wansbury, het Saterdag by die Motheo/Gariep-Sone 1-atletiekkampioenskap in Bloemfontein haar hand hoog opgesteek as ‘n moontlike groot naam in SA atletiek in die toekoms.

Dié blits het in die afdeling vir meisies 14 jaar ‘n goue driekuns behaal in die 100 m, 200 m en 400 m, al drie nommers in noemenswaardige tye. Sy het die 100 m met die grootste gemak haar eie gemaak in 12,80 en haar Oranje-spanmaat, Roelien Louw (13,33), in die tweede plek ingedwing. In die 200 m het sy gerieflik geseëvier in ‘n kookwater 26,10 teenoor Louw, wat self baie talent toon, se 27,30 sek.

Wansbury besluit toe om die 400 m ook te takel en weer eens was dit ‘n stryd tussen haar en Louw. Dié wedloop het vir groot opwinding gesorg en hoewel Louw ‘n goeie tyd van 61,96 genael het, was dit net-net nie goed genoeg om die vegter, Wansbury, te troef nie. Laasgenoemde seëvier in, wat nog ‘n onbekende vir haar is, ‘n haastige 61,34.

Naellopers in die one 1-streek het gedy en die blits van Grey, Lucky Molenyane, was oudergewoonte op sy stukke.

Dié yster het twee wegholoorwinnings in die afdeling vir seuns 16 jaar in die 100 m en 200 m beklink. Hy het die 100 m in ‘n weerligtyd van 10,85 gewen en sodoende die tweede atleet, sy spanmaat van Grey, Jan Meyer (11,45), agterweë gelaat.

Molenyane het in die 200 m gewys dat hy nie sy gelyke in die Sone 1-streek het nie en dat ‘n kookwater seisoen wink. Hy wen op ‘n spreekwoordelike drafstap in 21:82 en klop dié keer sy ander Grey-spanmaat, Moagi Mohapi (24:54).

Keenan Cloete (Jim Fouché) behoort vanjaar sy stempel af te druk op nasionale vlak in die naellope vir seuns 17 jaar. Hy het Saterdag ‘n puik goue tweekuns opgedis deur die 100 m (10,60) en 200 m (21,26) te wen. Sy genoemde tye was baie vinniger as die wenners van die 100 m en 200 m vir seuns 19 jaar.

Annemé Fourie (Jim Fouché) se goue driekuns in die 100 m vir meisies 17 jaar grens aan die beste vertonings van die byeenkoms. Sy het die toeskouers laat regop sit met haar klinkende oorwinnings in die 100 m (12,36), 200 m (25,36) en veral toe sy in haar derde nommer, die 400 m, in 57,38 ontplof het.

In die veldnommers het die oorwinning van Carina van Vreden (Jim Fouché) die oog gevang. Sy het die hamergooi vir meisies 17 jaar met ‘n mooi afstand van 47,01m gewen terwyl Johanri van Tonder (Oranje) se oorwinnings in die verspring en driesprong vir meisies 15 jaar self noemenswaardig is. Sy het onderskeidelik op 5,20 m en 11,10 m in die sandpit geland.

Cora Groenewald (Oranje) kan tevrede voel met haar sege in die verspring vir meisies 17 jaar (5,62 m).

Die twee Grey-kragmanne, Tielman Nieuwoudt en Johannes Botha, kan hul moontlike teenwoordigheid by die nasionale kampioenskap laat geld. Nieuwoudt het die gewigstoot vir seuns 17 jaar met ‘n netjiese 16,21 m gewen en Botha het in die diskusgooi met 53,19 m eerste geëindig. Botha se spanmaat, Aron Alvarez Aranda het hom goed die skrik op die lyf gejaag met ‘n goeie tweede plek (53,12), slegs sewe sentimeter korter as Botha se afstand. – RUFUS BOTHA