WANNEER DIE KOEDOEHORING DRAAI

0
1463

Titel: Wanneer die Koedoehoring draai
ISBN: 978-0-9814389-8-6
Formaat: 320pp, sagteband
Skrywer: Charlotte de Beer
Prys: R129-95

Die skryfster se deeglike navorsing van die Griekwamense, hulle taal en kultuur maak van hierdie roman ‘n verhaal wat leef.

Die tipiese kenmerke, soos hulle gebruik van die hiperbool in die oorvertel van tradisionele verhale en ander wolhaarstories, word geloofwaardig en lewensgetrou uitgebeeld. Intiem en intens verweef hiermee is hul bewondering vir fietse in raakbeelde en ongekunstelde taal.

Meraai Vannewestrys, ‘n ontluikende Griekwameisie, woon op die plaas Rolbos, binne ‘n tradisionele Griekwa-gemeenskap. Haar lief en leed is reeds byna twintig jaar gelede vir die eerste keer verwoord in Meraai van Rolbos (uitgegee deur Lapa Uitgewers) en word in Wanneer die koedoehoring draai in herinnering geroep en verder vertel.

Direkte motiewe wat Meraai raak sluit haar ontluiking tot volwassene, tradisionele rituele; ‘n familiestryd tussen broers; haar ma se innerlike konflik, hartseer en soeke na sin; asook die intrige rondom ‘n misdadiger wat op Rolbos opdaag, in. Dit word met soveel deernis herleef dat juis die eenvoud en kinderlike opregtheid daarvan direk tot die hart spreek. Meraai voel soos ‘n familielid, suster of vriendin, en mens se binneste reageer saam met haar verhaal.

‘Koedoehoringdraai’ word deur die Griekwamense gebruik, om die draaie van die lewe met sy swaarkry en keerpunte te beskryf. Die dinge waardeur Meraai gaan, laat haar lewe soos die gedraaide horings van ‘n koedoe lyk. Dit voel vir haar asof die verdraaide dinge nie gaan regkom nie. Sommige draaie is tydelik en ander is permanent, maar net die Here weet wat die beste is …

Dié roman word treffend in wyle prof. Tony Links se woorde saamgevat: “Dis ‘n boek wat die groot lewenswaarhede op die harttafels grafeer.”