Wanneer die finansies begin knyp

0
451

Suid-Afrikaners se finansies knyp al ‘n geruime tyd. Min mense daarbuite se begrotings klop en daar sal planne gemaak moet word.Nou wat kan jy eintlik doen indien jou begroting nie klop nie en die redes hiervoor buite jou beheer is? Om jou begroting te laat klop, sal jy een van twee dinge moet doen, of verkieslik albei.

Eerstens sal jy meer inkomste moet verdien om sodoende stygende koste teen te werk, en tweedens sal jy moet begin besnoei op sekere uitgawes.
Dit maak nie saak watter roete jy volg nie, jou beginpunt sal wees om fisies jou begroting uit te skryf, met ‘n kolom vir inkomste en een vir uitgawes. Dit gaan waarskynlik makliker wees om uitgawes te besnoei, as wat dit gaan wees om addisionele inkomste te genereer.

Begin dus deur jou begroting se uitgawekant te werk en te kyk waar jy op onnodige uitgawes kan spaar. Dit mag nodig wees om luukshede uit te sny. Miskien kan jy sekere artikels op jou uitgawekant vervang met goedkoper alternatiewe. Sekere van jou uitgawes sal vaste, verpligte kostes wees, soos byvoorbeeld huur of jou verbandpaaiement en hieraan sal jy nie veel kan doen nie.

Jy kan egter luukshede op jou inkopielys vir eers uitskakel. Kanselleer jou DStv-pakket of skakel oor na ‘n goekoper pakket. Gaan kyk ook na jou versekeringspremies. Is jy nie dalk oorverseker nie, of betaal jy nie op jou korttermynversekeringspolis nog vir goed wat jy nie eers meer besit nie?

Oppas net om nie die omvattendheid van jou versekering in te boet vir ‘n goedkoper premie nie. Dit kan jou duur te staan kom. Hou ‘n rommelverkoping en raak ontslae van alle artikels in jou huis wat jy nie meer gebruik nie.

Jy kan die geld aanwend om jou kredietkaart, of persoonlike lening klaar te betaal. Op die manier kan jy jou skuldpaaiement verminder of uit jou begroting verwyder. Om so deur jou uitgawe-kant van jou begroting te werk, kan jou paar weke neem, maar op die einde van die dag sal jy jou uitgawes stroombelynd hê, en heelwaarskynlik paar ekstra rande in jou sak hê.

Nou vir die moeiliker taak. Jy moet die inkomste-kant van jou begroting meer kry. Indien jy dapper is, kan jy jou vaardighede uitbrei deur ‘n kortkursus te loop of selfs ‘n tersiêre kwalifikasie aan te pak. Brei jou CV uit en skep vir jou ‘n LinkedIn-profiel. Begin dan aktief na ‘n beter loopbaanopsie soek.

Vir die van ons wat minder waaghalsig is, is daar meer konvensionele roetes wat gevolg kan word. Miskien het jy ‘n stokperdjie wat in ‘n winsgewende besigheid omskep kan word. Span kragte saam ‘n vriend/in of kollega, en begin dalk ‘n besigheid wat van die huis af bedryf kan word. Om jou begroting te laat klop, gaan kreatiwiteit vereis, dink dus buite die boks.

Horace Terry
horace@nassaux.com