Wandile slaggereed om te oefen

0
648
Wandile Makwetu tydens die 2018 o.19 Krieket Wêreldbeker-wedstryd tussen die Junior Proteas en die Wes-Indiese Eilande in Tauranga, Nieu-Seeland. FOTO: HAGEN HOPKINS

Die VKB Knights-krieketspeler wat genomineer is vir ‘n KSA-eerbewys, Wandile Makwetu, verwelkom die nuus dat professionele krieketspelers weer sal kan begin oefen tydens vlak 3 van die nasionale inperking.

Die VKB Knights-paaltjiewagter is genomineer vir die Nuweling van die Jaar-toekenning ná ‘n goeie seisoen met die kolf.

Die voormalige SA U19-krieketspeler het die Knights ook tydens die afwesigheid van Pite van Biljon in die 2019/20-seisoen by geleentheid aangevoer.

Makwetu het aan Bloemfontein Courant gesê hy is opgewonde nadat hulle die groen lig ontvang het om weer te begin oefen en te kan speel.

“Ons is baie opgewonde ná die nuus wat ons die afgelope naweek ontvang het en verwelkom die besluit.

“Dit is duidelik dat Krieket Suid-Afrika en die Knights sal sorg dat al die regte strukture in plek is om seker te maak dat dit veilig is om weer te begin oefen. Ek is baie opgewonde hieroor.”

Die speler was een van drie Suid-Afrikaners en Knights wat in die 2018-IKR o.19 Krieket Wêreldbeker-span van die toernooi aangewys is, en het sy vreugde uitgespreek oor die nominasie vir ‘n eerste KSA-toekenning.

“Ja, ek is opgewonde om genomineer te word. Ek is baie bly dat ‘n ordentlike seisoen erken word. Natuurlik sal ek baie graag wil wen, maar om net benoem te word, is reeds vir my ‘n groot ding.

“Dit motiveer my om volgende seisoen nog beter te wees.”

Intussen het die Proteas se boul-legende, Allan Donald, Woensdag in Bloemfontein aangekom om die rol as die Knights se hoofafrigter oor te neem. – MORGAN PIEK