Wandelende kunswerke

0
Wandelende kunswerke

Tatoeëermerke was baie skaars toe ek grootgeword het. Jy sou dalk ‘n skewe skeepsanker op ‘n spoorwegman se bo-arm sien, of ‘n halfnaakte meermin op ‘n matroos se bors in Durban.

“Dis vieslik,” sou my pa sê. En dan sou hy byvoeg, terwyl hy ‘n diep trek aan sy Peter Stuyvesant vat: “Onthou, jou liggaam is die tempel van God.”

Deesdae voel ‘n mens amper half uit as jy níe ‘n tatoe het nie. Net in ons gesin is daar al ‘n stuk of vyf pragtige ink-skeppinge, wat wissel van die mooiste skoenlappers en blomme tot Griekse en Chinese letters. My enigste waarskuwing aan my kinders is: “Pasop vir spelfoute!”

As ‘n mens so kyk na die kleurvolle lyfkuns oral, dan is jy eintlik jammer dat hierdie kunswerke tot niet moet gaan. Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.
Of dalk nie? Daardie meester van die makabere, skrywer Roald Dahl, het in sy kortverhaalbundel, Someone Like You, ‘n storie opgeneem wat my altyd bybly.

Dalk ken jy dit? Die titel is “Skin”. Dahl vertel die verhaal van ‘n stokou boemelaar wat honger deur die strate van Parys dwaal en by ‘n kunsuitstalling verbystap. Deur die venster herken hy die skilderwerk van ‘n vriend uit sy jong dae.

Dit blyk dat die skilder, wat lankal oorlede is, se werk uiters gesog is. Die boemelaar strompel by die galery in, en toe hulle hom wil wegjaag, pluk hy sy hemp uit. Op sy rug pryk ‘n reusetatoeëerportret, die gesig van ‘n vrou, wat duidelik ‘n vroeë werk van sy jeugvriend, die beroemde skilder, is.

Lang storie kort: Hy word deur ‘n man weggelei met die belofte dat hy vir die res van sy lewe in ‘n deftige hotel versorg sal word. Hy moet net daagliks vir ‘n paar uur by die swembad rondkuier sodat mense die kunswerk kan bewonder.

‘n Paar weke later word ‘n voorheen onontdekte skildery van die groot skilder by ‘n veiling in Buenos Aires teen ‘n astronomiese bedrag verkoop. Dit is ‘n portretstudie met ‘n vreemde tekstuur. Die gesig van ‘n vrou.

Albé Grobbelaar

No posts to display