Waarvoor wens jy?

0
816

Die volgende vraag leef die afgelope tyd in my gedagtes: Waarvoor sou jy vandag wens?
Andersom gestel: As jy vandag iets vir die Here sou vra, wat sou dit wees? Op dié vraag is daar baie antwoorde, maar in my gedagtes steek een antwoord vas: “Here, as ek net altyd U kan ken as my vriend en Verlosser!”
Wat leef in jou gedagtes? Die Here het vir jou en my mens geword, aan die kruis gesterf en opgestaan, sodat ons kan staatmaak op sy nabyheid en omgee te midde van omstandighede.
Dit is ook die rede hoekom die Bybel vol beloftes is en verhale van God se nabyheid en liefde. Dit is meer as ‘n fee-verhaal en stories. Dit is ‘n verhaal waarin God met ons in ‘n verhouding wil staan, vir ons die gawe gee van sy vriendskap met ons.
Daarvan lees ons in Genessis 3:8: “Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel….” Hy wil saam met jou leef en stap op die wandelpaaie van die lewe – jou vriend wees! Die vraag sou weer gevra kon word: “Waarvoor wens jy… vandag?”

DS STEPHAN VAN HEERDEN