Finansiële welstand en onafhanklikheid kom nie toevallig of per geluk nie. Dit vereis harde werk en wyse handeling met jou finansies. Harde werk alleen gaan nie vir jou finansiële welvaart skep nie. Ook nie om slim te werk met jou geld nie. Jy gaan hard én slim te werk moet gaan. Dan sal jy finansieel onafhanklik kan leef.
‘n Paar goue wenke wat elke jongmens kan onthou, is die volgende: eerstens, spaar ‘n paar rand elke maand. Moet egter nie net spaar om te spaar nie. Wees wys en spaar op die regte plekke. Aandele lewer die beste langtermyngroei op; sorg dus dat jy heelwat blootstelling aan aandele kry.
Tweedens, hoe minder jy vir die Ontvanger van Inkomste hoef te gee, hoe meer sal jy in jou sak hê vir jouself. Benut dus die belastingvoordele wat uittree-annuïteite en belastingvrye beleggings jou bied.
Derdens, moet nooit aan jou aftreegeld raak voordat jy aftree-ouderdom bereik nie. Indien jy bedank by jou werk, dra jou pensioengeld oor na ‘n bewaringsfonds of uittree-annuïteit. Moet nie jou pensioengeld gebruik om skuld te betaal nie.
Vierdens, jou vermoë om te kan werk en ‘n inkomste te verdien is jou mees waardevolle bate. Indien jy dit verloor weens siekte of ‘n besering, kan jy in ellende gedompel word vir die res van jou lewe. Sorg dus dat jy genoeg ongeskiktheidsversekering uitneem.
Vyfdens, moenie op skuld leef nie. Indien ‘n uitgawe nie binne jou begroting pas nie, moenie dit aangaan nie. Spaar eerder tot jy dit kan bekostig. Skuld is ‘n slegte idee. Dit was nog nooit ‘n goeie idee nie en sal ook nooit ‘n goeie idee wees nie. Om huis- en motorskuld aan te gaan kan verskoon word, maar delg dit so gou as wat jy kan.
Laastens, leef eenvoudig. Hou jou finansies eenvoudig, gebruik eenvoudige finansiële produkte en koop wat jy nodig het, nie wat jy wil hê nie. Indien jy eenvoudig leef, sal jy in die nag lekker slaap en nie nodig hê om heeltyd nuwe planne te beraam nie. Hou by bogenoemde en jy sal finansieel onafhanklik kan leef. – Horace Terry
horace@nassaux.com