HORACE TERRY
Die huwelik is nie ’n saketransaksie nie, maar soos met enige gebeurtenis is daar ongelukkig ook sekere administratiewe sake wat vooraf gedoen, en ander besluite wat geneem moet word. Die eerste belangrike besluit gaan oor die wyse waarop die huwelik voltrek gaan word. Gaan dit binne of buite gemeenskap van goedere wees? Daar is ’n hele aantal voor- en nadele wat teen mekaar opgeweeg kan word.
Indien die bruidspaar sonder huweliksvoorwaardekontrak trou, is die huwelik binne gemeenskap van goedere. Kortliks kom dit daarop neer dat, behalwe in uitsonderlike gevalle, elkeen gelykop in mekaar se bates en laste deel. Baie voornemende bruidspare sal miskien tereg redeneer dat hulle tans nie oor veel bates beskik nie, en dit nie saak maak as hulle binne gemeenskap van goedere trou nie. Baie gades wat al lank getroud is, sal ook bevestig dat hulle ook so gedink het, maar sal spyt wees dat hulle om sakeredes en beskerming van bates nie eerder buite gemeenskap van goedere getroud is nie.
Baie bruidspare weet nie presies wat die toekoms vir hulle inhou wat betref moontlike besighede wat hulle wil begin nie. Een van die groot voordele van ’n huwelik buite gemeenskap van goedere is dat indien een van die gades ’n besigheid bedryf en krediteure beslag wil lê op bates om skulde te betaal, slegs die bates van die een gade in gedrang sal wees, indien die ander gade nie borg geteken het nie.
Huweliksvoorwaardekontrakte kan met of sonder die aanwasbedeling aangegaan word. Deskundige advies moet hiervoor ingewin word. Hierdie kontrak word deur ’n prokureur (notaris) opgestel en alle dokumente moet voor die huweliksbevestiging geteken en afgehandel wees. Die gemiddelde koste beloop ongeveer R2 500. Ander belangrike administratiewe aangeleenthede sluit in die opstel van ’n testament. Indien een of beide van die bruidspaar reeds oor ’n bestaande testament en/of polisse met begunstigdes wat gewysig moet word, beskik, is dit belangrik dat dit dringende aandag geniet, anders bly dit van krag. Wysigings van mediese skema lidmaatskap en pensioenfonds begunstigdes is ook belangrik. Daar word ook aanbeveel dat finansiële beplanning gedoen word, onder meer wat betref banksake en hersiening van lang- en korttermynversekering.
Bron: Sanlam Trust