Die week se rubriek is in ligter luim en gee ’n bietjie meer inligting oor die geskiedenis van die rand, Suid-Afrika se amptelike geldeenheid. Die rand het op 14 Februarie 1961 tot stand gekom en die Britse pond vervang as amptelike geldeenheid. Daar is terselfdertyd oorgeskakel na ’n desimale monetêre stelsel. Die rand is verder ook die gemeenskaplike geldeenheid tussen Suid-Afrika, Swaziland, Lesotho en Namibië, en is dus aanvaarbaar as betaalmiddel in enige van dié lande.
Bogenoemde lande se onderskeie geldeenhede word ook vasgepen teen die rand, wat die waarde van hulle geldeenhede ondersteun aangesien dié lande se ekonomieë klein en kwesbaar is. Die rand se internasionale kode is ZAR (Zuid-Afrikaanse Rand), akomstig van die Nederlandse gebruik wat in daardie jare nog sterk was in Suid-Afrika. Verder is die woord rand afgelei van Witwatersrand, waar Johannesburg geleë is, asook die meeste van Suid-Afrika se goudneerslae. Met die aanvang van die rand in 1961 het dit verhandel teen R1.40 teenoor die VS$ en het teen dié waarde bly verhandel tot 1982.
Vanaf 1982 het politieke druk as gevolg van apartheid teen Suid-Afrika begin opbou en het dit die waarde van die rand verwater tot vlakke van R2.00 vir ’n VS$ teen Februarie 1985. Ten tyde van president PW Botha se Rubicon-toespraak het die rand verder verswak en het teen 15 Augustus 1985 op vlakke van R2.40 teenoor die VS$ verhandel. Tussen 1986 tot 1988 het die rand weer verstewig en het met tye onder die R2.00-vlak teen die VS$ verhandel. In die vroeë 1990’s het dit duidelik geword dat Suid-Afrika sy eerste swart regering gaan hê en dit het bygedra tot heelwat onsekerheid rakende Suid-Afrika se toekoms, en die rand het in November 1992 deur die R3.00-vlak vir ’n VS$ gebreek. Na die eerste demokratiese verkiesing in 1994 verswak die rand tot R3.60.
Met die verkiesing van Tito Mboweni as president van die Reserwebank en Thabo Mbeki as president van Suid-Afrika het die rand vining veld verloor en kort voor lank op vlak van R6.00 teenoor die VS$ verhandel. Nadat Zimbabwe se grondhervormingsprogram afgeskop het, gevolg deur die terroriste-aanvalle in die VSA in September 2011, het die rand tot sy swakste vlak teenoor die VS$ teruggesak, en in ’n stadium teen R13.84 vir ’n VS$ verhandel. Nadat daar ’n formele ondersoek tot die rand se waarde in 2001 geloods is, het dit drasties verstewig tot vlakke onder R9.00 in 2002 en tot vlakke onder R5.70 teen 2004. Die rand het op vlakke rondom R6.00 bly verhandel tot en met die derde kwartaal van 2006, van waar dit stelselmatig begin depresieer het.
* Terry is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en beleggingsadviseur by Jenwil Blouster.