Waar is hulle nou? Leon Rossouw, wêreldklas-PI

0
502
Baasspeurder, Leon Rossouw

Bloemfontein het nie ‘n see nie. Ons het ook nie Uber of ‘n moltrein nie. Maar ons het wel ‘n wêreldklas- private speurder, wat oor die jare tegnologie gebruik het om van Suid-Afrika se mees geheimsinnige misdade op te los en van ons mees gewetenlose misdadigers vas te trek.

Ontmoet vir Leon Rossouw. Baie mense sal hom ken as die “selfoon-speurder”. Rossouw sê self, “Ek het al duisende selfone opgespoor.” Maar sy ware passie is om dieselfde tegnologie wat hy gebruik om selfone mee op te spoor, in te span om meer ernstige misdade op te los. Of dit nou reeksmoordenaars is, voortvlugtendes, of selfs die Pakistani Mafia, Leon het al letterlik dosyne ernstige misdade opgelos en word gereeld deur die SAPS of die Valke ingeroep om te help met groot sake.

Anders as meeste ander private speurders, was Rossouw nooit in die polisie nie. Hy het met sy diensplig in die weermag in die vroeë 90’s die tegnologiese vernuf, wat hy vandag nog gebruik, bemeester. Nadat hy ontslaan is uit die weermag, het hy gehoor van ‘n vlaag misdade wat destyds in Bloemfontein se middestad plaasgevind het. Hy het ‘n kamera opgestel en gebeure begin afneem. Dit was nie lank nie, of Rossouw het begin om dosyne foto’s na die polisie te neem van misdadigers wat op film vasgelê is. Kort daarna het die polisie sy hulp ingeroep en gevra hy moet uithelp om motordiewe vas te trek. En dis waar alles begin het.

Dié speurder maak meestal gebruik van ‘n selfoon en geslote kringtelevisie (CCTV) asook ander vorme van tegnologie om sy misdade op te los. “Wanneer ek ‘n uitdruk van ‘n selfoonstaat sien, lees ek dit soos ‘n storieboek,” vertel hy. Dit vertel die storie van ‘n misdaad.

Een storie wat hy goed onthou en wat na aan sy hart lê, is dié van Dieter Scholtz, wat verskeie eiendomme besit het wat hy uitverhuur het. Van sy huurders, wat ‘n sportkroeg bestuur het, het agter geraak met die huurgeld. Hy kry toe een aand ‘n selfoonoproep om te sê die huurders het die geld. Toe hy egter opdaag om die geld te gaan haal, word daar ‘n geweer op hom gerig en hy word vasgebind. Hy word gemartel totdat hy instem om R140 000 oor te betaal in een van die huurders se rekeninge.

Die vier huurders, wat intussen ‘n toordokter geraadpleeg het, moes ‘n spesifieke konkoksie drink, oor hulself gooi en Scholtz vermoor. Hulle het sy lyk in ‘n drom gegooi en verbrand. Sy oorskot is op asgate gestrooi.

Met Rossouw se hulp is by wyse van selfoontegnologie bewys dat Scholtz nooit die perseel van die kroeg verlaat het nie. Dit het gelei tot die arrestasie van die vier verdagtes, wat almal later skuldig bevind is.

Vernon Baumann

info@bloemfonteincourant.co.za