Waar gesondheid, vriendskap hande vat

0
1053
Susan Breytenbach en Mocha haar hond is ’n gereelde gesig op Brandkop en sy trek Mocha gereeld aan vir elke spesiale geleenthede. FOTO:Verskaf

Naweke in Bloemfontein is week in en week uit bedrywig vir drawwers danksy die gewilde Parkrun-konsep. Dit is een van die maniere van oefen in die stad wat die vinnigste groei.

Volgens die geleentheidsdirekteur van die Brandkop Parkrun, Thane Ninnemann, bied die Parkrun nie net ‘n veilige omgewing vir mense om te oefen nie, maar dit is ‘n plek waar mense ontmoet en vriendskappe gebore word. Ninneman het verduidelik dat die Brandkop Parkrun op 14 September 2019 met 463 deelnemers begin het en sedert die herinstelling ná die pandemie, het die aantal deelnemers geleidelik toegeneem.

“Parkrun is ‘n reeks 5 km-byeenkomste vir stappers en hardlopers wat elke Saterdagoggend op verskeie plekke wêreldwyd plaasvind. Wat dit so uniek maak, is dat dit oop is vir enigeen in die samelewing, enige ouderdom, enige vlak van fiksheid – van beginners tot marathonatlete,” het Ninneman gesê.

Volgens deelnemer Yvonne Roos het sy aangesluit omdat sy destyds baie gesondheidsprobleme weens haar asma ondervind het. “Ek het baie gesukkel met asma-aanvalle en gewig wat ek nie kon afskud nie. My swaer het my vertel van die Brandkop Parkrun en ek het besluit om te kyk wat daar gebeur. My eerste dag was moeilik maar ek het dit geniet. Dit was my afdag van die week en ek en my jongste dogter het aangesluit. My asma-aanvalle het verminder. Ek het gewig verloor en my kleinseun het ook aangesluit. Ek geniet al die Parkruns en die mense wat elke keer iets anders aanbied. Kersfees was lekker en ek kon kersvader speel. Ek geniet die Parkrun en die natuur om my. Dit maak my haastig om elke Saterdag daar te wees. Kom kuier gerus en geniet ’n lekker geselsie met almal en ontspan in die natuur.”

Yolanda van Vuuren het gesê sy was nog altyd ’n hardloper, maar het altyd op haar eie geoefen. “ ‘n Vriendin het my vertel van Parkrun en genooi om saam met haar te gaan. Nodeloos om te sê: “I got hooked.” Dit was en is so lekker om tussen nog geesdriftige drawwers te kan wees… beginners en ook bietjie gesonde kompetisie. Ek het elke Saterdag met ywer aangepak vir ‘n nuwe persoonlike beste. Die bestuur en vrywilligers moedig ’n mens met ywer aan en laat jou soos ’n ‘celebrity’ voel en dit geld vir elke Parkrunner en stapper wat die 5km voltooi. Die feit dat daar geen koste by betrokke is nie, help dat enigiemand dan deelneem. Brandkop is dierevriendelik en ons hondeliefhebbers kan heerlik saam met ons hondekinders gaan draf of stap. Brandkop Parkrun is my hoogtepunt elke Saterdag en lekker om my naweek mee af te skop.”

Om die ervaring te probeer, registreer gratis op www. parkrun.co.za en sluit aan by Brandkop se Paasparkrun op Saterdag 8 April om 08:00.

Bonolo Moloi
bonolo@centralmediagroup.co.za