
Die gewilde musikale komedie, Waaihoek, wat handel oor die ou Waaihoek-area en sy geskiedenis in die 1950’s, is terug op die André Huguenet-teater se verhoog van 18 tot 20 Augustus.
Volgens die senior bemarkingsbestuurder van Pacofs, Adri van Veijeren, ontstaan histeriese misverstande in die storielyn, met baie plaaslike liedjies in die 1950’s-styl. Die dialoog en liedjies is in ‘n gemengde styl van Afrikaans en plaaslike dialekte.
“Die musikale komedie, Waaihoek se Vinkel en Koljander, speel af in 1950 toe die gebied nog bevolk was deur inwoners van alle rasse wat later oor die Spoorwegbrug en spore na Heidedal verplaas is. Die musikale komedie herbesoek daardie tye, die musiek en die lewens van daardie plaaslike mense op ‘n prettige en vermaaklike manier,” vertel sy.
Van Veijeren sê ook dat Waaihoek, waar die South African Native National Congress (SANNC) in 1912 gestig is, was basies die grys gebied in Bloemfontein, soortgelyk aan Distrik Ses in Kaapstad. In 2022 sal dit 110 jaar gelede wees. Die SANNC staan vandag bekend as die ANC.
Akteurs Jefferson Korkee, Maria de Koker en Chicco de Koker is onder andere op die verhoog te sien. Musikale regisseur Angelo Mockie en plaaslike professionele sangers van Heidedal is ook op die verhoog.
Waaihoek is vanaf 18 tot 20 Augustus om 18:30 te sien. Kaartjies kos R100 per person, of R80 per persoon vir groepe van vyf of meer. Kaartjies is slegs by die Pacofskaartjiekantoor en by die deur te koop.
Justine Fortuin