Vyftienjarige wen groot ovaalbaantitel

0
1922
Die kampioen, Nathan van Breda

Bloemfontein kan na die afgelope naweek spog met ‘n ovaalbaankampioen wat net 15 jaar oud is en stof in baie ouer en ervare bestuurders se oë geskop het.

Nathan van Breda, ‘n leerling aan Jim Fouché Hoërskool, het die afgelope naweek aan die Suid-Afrikaanse Ovaalbaanwedrenkampioenskappe in Port Elizabeth deelgeneem. Hy het in die 1660-klas eerste geëindig en het ook die meeste punte oor die twee dae behaal.

Van Breda was maar nege jaar oud toe hy in September 2016 die eerste keer begin ry het. Hy het nooit gedink dat hy op so ‘n jong ouderdom dié sukses sal behaal nie. “Ek het nog nie heeltemal besef wat ek bereik het nie, maar ek is baie bly.”

Sy fokus vir nou is op die nasionale kampioenskappe wat in September in Bloemfontein plaasvind. Hy kyk ook daarna om aan ander motorsport-geleenthede deel te neem, “soos die wat op die Kayalami Grand Prix Circuit gehou word”.

Hilton van Breda, Nathan se pa, was nog altyd baie trots op sy seun gewees omdat hy eenvoudig altyd deelgeneem het. “Met hierdie nasionale kampioenskapstitel agter sy naam, loop ons oor van trots.”

Jeretha Oosthuizen

jeretha@mahareng.co.za