Vyfjarige Mabandla droom een ding: Mercedes.

0
643

Alzane Narrain

Mabandla se grootste droom was om in ‘n Mercedes te ry, maar nie net sommer enige Mercedes nie, Mabandla wou spesifiek hê dit moes ‘n wit of silwer AMG-afslaankap wees.

Reach for a Dream, ‘n liefdadigheidsorganisasie wat help om die drome van kinders met lewensbedreigende siektes te bewaarheid en die OFM Breakfast Special-span, het saamgestaan om Mabandla se droom te vervul.

“Mabandla is ‘n baie stil seuntjie, maar vreeslik liefdevol en baie vriendelik. Hy gee net drukkies en soentjies en glimlag heeltyd,” sê radio-aanbieder, Anna Visser.

Volgens André Kunz het Tom Parsons van Welkom die Breakfast Special-span gekontak nadat hy die seuntjie se verhaal oor OFM gehoor het en so was Mabandla se droom in die pyplyn.

“Uit die goedheid van sy hart het hy Bloemfontein toe gery om die seuntjie se droom waar te maak. Tom het ook vir Mabandla Toys R Us toe geneem en vir hom speelgoed gekoop,” sê Kunz.

Die Breakfast Special-span het ook vir Mabandla ‘n AMG-afslaankap-modelkarretjie laat raam en ‘n Mercedes SUV-afstandbeheerde karretjie geskenk om die dag sommer ekstra spesiaal te maak.

“Mabandla mag dalk ‘n man van min woorde wees, maar die glimlag wat so elke nou en dan op sy gesiggie opgepop het, was vir seker ‘n storie op sy eie. Hy is ‘n baie gelukkige klein seuntjie,” sê Visser