MARINÉ JACOBS
In ‘n onverwagse wending is alle klagtes teen die vyfde verregse, Louis Lategan, pas in die Bloemfontein Streekshof teruggetrek.
Lategan het tereg gestaan op ‘n aanklag van hoogverraad nadat hy verlede week in Aberdeen in hegtenis geneem is. Polisie het geglo hy sou verantwoordelik wees vir die opblaas van brandstofopgaartenks in Port Elizabeth.
Lategan het vroeër vandag ook voor Landdros Mveko verskyn vir ‘n amptelike borgaansoek, maar die saak is uitgestel na 14:00 om Lategan se regsverteenwoordiger, Piet Schuurman en staatsaanklaer, Jannie Botha, kans te gee om met mekaar te konsulteer.
Familie van Lategan het breed in die hof geglimlag nadat die aanklagte teruggetrek is.
Polisie het vroeër gesê ten minste nog vier inhegtenisnames word verwag.