Vyf Vrydag in hof vir Bethulie moord

0
Vyf Vrydag in hof vir Bethulie moord

CHRISTOPHER MOTABOGI

Vrystaatse polisie het vroeg vanoggend bevestig dat die vyf verdagtes wat verdink word van die moord op ‘n bejaarde egpaar van Bethulie, môreoggend in dié dorp se Landdroshof sal verskyn.

Polisiewoordvoerder, Malesela Langa sê Gordon Adam (78) en sy vrou, Lorraine (63) is die afgelope naweek in hul huis vermoor. Gordon is verskeie kere in die bors en rug gesteek terwyl Lorraine glo met ‘n panga gekap is.

Intussen, sê Langa dat Vrystaatse polisie gistermiddag ‘n geweer, ‘n identiteitsdokument en ‘n vuurwapenlisensie wat aan die oorledenes behoort het, gekonfiskeer. Dit nadat die verdagtes glo dié items buite Edenburg aan die polisie uitgewys het.

Langa sê die ondersoek duur voort.

Intussen, het die AHI, wat sakekamers landwyd verteenwoordig, gister ‘n beroep op die Ministerie van Polisie gedoen, om met ‘n praktiese plan vorendag te kom, om die onophoudelike moorde op weerlose mense in die land te stuit.

Die beroep het ‘n dag gekom voor President Jacob Zuma sy staatsrede vanaand in Kaapstad lewer.

AHI Nasionale hoof, Christo Van Rheede sê hulle glo dat gefokusde en doeltreffende polisiëring op ‘n 24-uur grondslag uitgerol moet word.

"Vir al in kwesbare gebiede soos plase, soos jou townships, soos jou industriële en sakegebiede en dan ook afgeleë gebiede. Daai gefokusde en doeltreffende polisiëring moet geprioritiseer word en ons moet ook hierdie mense wat daai gebiede moet patroleer, moet ons behoorlik oplei en dan behoorlik toerus sodat hulle hul taak tot die beste van hulle vermoë kan uitvoer" het Van Rheede gesê.

No posts to display