Vyf van die beste!

0
1279

Vyf buitengewoon talentvolle jong musici, waarvan drie Kovsies is, gaan vanjaar Bloemfontein se naam hoog hou op die 36ste Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK) wat van 6 tot 11 Desember 2021 by die Hugo Lambrechtsouditorium in Parow, Kaapstad plaasvind.

‘n Allemintige 27 jeugmusici gaan oor vier rondes om die gesogte titel, R155 000 in kontant, asook goue, silwer- en bronsmedaljes meeding.

Volgens die Nasionale Jeugmusiekstigting (NJMS), die organiseerders van die kompetisie, is dit die grootste aantal tot nog toe in die 37-jarige bestaan van die kompetisie.

Die finaliste is uit ‘n rekordaantal van 45 inskrywings vanoor die land gekeur. Die vyf Vrystaters wat gekies is om mee te ding in hierdie jaar se kompetisie is:

Danielle Ceronio, 17, klarinet: Danielle se musiekreis het op 4-jarige ouderdom begin toe sy blokfluit begin speel het. Haar eerste musiekonderwyser was Kobie Kolditz. Op 11-jarige ouderdom begin dié talentvolle musikant met klarinetlesse by Danré Strydom, musieklektor aan die Universiteit van die Vrystaat. Danré is steeds haar tutor.

Pieter Joubert, 18, viool: Pieter was die alleenverteenwoordiger vir die Vrystaat by die NJMK in 2019. Tot met die voltooiing van sy matriekeksamen was Pieter die konsertmeester van die provinsie se jeugorkes sowel as van die Sentraal Musiekakademie Sinfonietta. Met ‘n professionele tjellis as moeder, het hierdie jong ster sy musiekreis begin met klavierlesse op die ouderdom van ses.

Willie Naudé (Kovsie), 19, tjello: Willie se musiekfondasie is stewig gevestig. Albei sy ouers het grade in musiek en albei sy sibbe speel musiekinstrumente – sy suster die viool en sy broer die tjello. Sy musiekloopbaan het op ouderdom 4 jaar begin toe sy violis-ma hom toegelaat het om op haar viool te speel.

Kagiso Ramosa (Kovsie), 19, alt-saxofoon: Kagiso betree die wêreld van glorie tydens die 2021- NJMK. Hy is die enigste in ‘n gesin van agt wat musiek maak en word tans onderrig deur Danré Strydom, klarinet- en saxofoonlektor aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy musiekloopbaan begin op 12 jaar toe sy ouers die Johannesburg Jeugorkesmaatskappy ontdek het.

Karlin Kock (Kovsie), 19, klavier: Dit is die eerste keer dat Karlin meeding in die NJMK. Haar grootouma en haar ouma was musiekonderwysers, terwyl haar moeder steeds musieklesse gee. Met hierdie ryk musiekerfenis, het Karlin se ma gesien dat haar dogtertjie op die ouderdom van 5 jaar begin belangstel het in musiek.

Die NJMK word as een van Suid-Afrika se strafste kompetisies vir jeugmusici tussen die ouderdom 14 tot 19 jaar, beskryf.

Dit verg stamina, tegniese uitmuntendheid en sterk vertolkende vaardighede. Die deelnemers ding oor vier rondes mee waartydens hulle ‘n uitgebreide repertoire van werke uit verskillende styltydperke speel.

Dit is die enigste Suid-Afrikaanse musiekkompetisie waar die ses finaliste die geleentheid kry om met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes opte tree.

Volgens Michael Maas, voorsitter van die NJMS, gaan die aantal mense vir die galakonsert op Saterdag 11 Desember 2021, streng beperk word weens Covid19-regulasies en veiligheid. “Die hele konsert en prysuitdelingseremonie sal egter gratis op die NJMK se webblad gestroom word.

Mense kan nou net die stroomknoppie op die tuisblad van die NJMK-webblad (www.nymc. co.za) druk om die geleentheid te volg,” het Maas gesê.

Pieter Delport

pieterd@mahareng.co.za