Met twee koue fronte op pad, raak mense al meer geesdriftig om soos ware ysbere Saterdag deur water van onder 9 grade Celcius deur die Sandrivier te swem. Hulle sal sowat 30 meter ver moet swem om die gewilde Ysbeerswem-medalje te kan verower.
Volgens Felix Burri, organiseerder van die jaarlikse Ysbeerswem by Bundu-kamp naby Ventersburg, is alle reëlings reeds in plek en verwag hulle honderde mense by die prettige saamtrek van swemmers, kampeerders, braaiers, en 4X4-avontuurlustiges.
“Ons sien uit na ‘n dag vol goeie sportmanskap, opwinding, samesyn en goeie gees. Dit is die 21ste jaar wat die byeenkoms aangebied word,” sê Felix.
Burri bedank ook al die borge soos Goldco Midas vir die medaljes, Bundukamp wat gedeelte van die Sandrivier beskikbaar stel, en ENGO, die welsynsvennoot wat die hekke beman en eetgoed voorsien. Orange River Kelders sal ook geskenke aan eregaste en vrywilligers gee.
Toegangsgeld per swemmer is R40, R50 per motor en R50 vir laat-sweminskrywings.
Geen veldfietse of vierwielmotorfietse sal toegelaat word nie.
Vir meer inligting kan Felix by 082-851-4584 gebel word.
Aangeheg is foto’s van vorige jare se Ysbeerswem by die Sandrivier. Foto’s is verskaf deur Felix Burri.