GEORG VAN ECK
Vir groter vuurwerk-kragmeting kan kwalik gevra word, want die twee voorlopers van Suid-Afrika in Superrugby, Bulls en Toyota Cheetahs, pak mekaar komende Saterdag om 19:10 in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein.
Net om nog meer druk op die spelers te plaas, volg die aankondiging van Heyneke Meyer se Springbok-rugbyspan teen Italië, Skotland en Samoa kort daarna.
Die gunstelinge is ongetwyfeld die Bulle met talle gesoute Springbokke in hul geledere.Bulls is ’n span met ’n gevestigde spelpatroon, fisiese voorspelers en agterspelers wat nooit onderskat kan word nie.
In ’n neutedop is hul resep: oorheers voor en gebruik skoppe, nie net as ’n wapen nie, maar ook as hoofbron van punte deur Morné Steyn.
Teenoor hulle staan die Toyota Cheetahs, wat hul suksesvolste seisoen nog in Superrugby beleef. Met net twee gesoute Bokke, Adriaan Strauss en Heinrich Brussöw, in hul geledere, maar met sy talentvolle spelers speel die Toyota Cheetahs ondernemende hardlooprugby en spelbrekers van die gehalte van Willie du Plessis, Piet van Zyl en Lappies Labuschagne wat enige teenstander onkant kan betrap
Die feit dat die Bulls hul vorige kragmeting 26-20 op Loftus Versfeld gewen het, gaan die besoekers met groot vertroue na Bloemfontein laat opruk. Die verlede tel egter nie. Dit is die hede wat geld en ook die afgelope Saterdag se kragmetings kan nie as maatstaf gebruik word om die Cheetahs en Bulle teen mekaar op te weeg nie.
Die Cheetahs het wel die fisiese aanslag en dodelike skopskoen van die Kings se voorhoede en skoppe Demitri Catrakilis oorkom om oortuigend met 34-22 in die Baai te wen, maar die Bulle se aanslag en die van die Kings verskil hemelsbreed.
Dieselfde geld die Bulls se 18-16 sege oor die Sharks in moeilike speeltoestande.
Die twee spanne weeg baie goed teen mekaar op. Ervaring is gewis aan die Bulle se kant, maar Cheetahs beskik oor talle uiters talentvolle spelers. Goeie lynstaanbesit deur Juandré Kruger-hulle kan die skaal in die Bulle se guns kan swaai.
Die houe wat die Bulle in die vaste skrums teen die Haaie in Durban ontvang het, maak hulle kwesbaar teen Coenie Oosthuizen, Strauss en Lourens Adriaanse en soos Labuschagne, Brussöw en Philip van der Walt nou speel, sal Pierre Spies-hulle moet uithaal om bo in die los te kom.
Albei spanne verdedig uitstekend en het sterk aanvallende spelers, maar dit is ’n spelskepper soos Le Roux wat die verskil kan maak as hy betyds van sy dyspierbesering herstel.
Met Bok-kleure, Superrugby-ligapunte, eer en trots op die spel, wag daar .’n stryd duisend.
Punte en uitslae van Superrugby
Toyota Cheetahs 34 (13). Drieë: Johann Sadie (2), Piet van Zyl, Willie le Roux. Doelskoppe: Elgar Watts (4). Straf: Watts (2), Kings 22 (12). Drie: Nicolas Vergallo. Doel: George Whitehead. Straf: Demitri Catrakilis (5).
Ander uitslae: Stormers 20 Reds 15; Bulls 18 Haaie 16; Chiefs 28 Crusaders 19; Rebels 24 Waratahs 22; Force 19 Highlanders 18.
Superrugby bepalings vir die naweek: Ses Superrugby-wedstryde word die naweek in Suid-Afrika, Australië en Nieu-Seeland gespeel.
Die Superrugby-bepalings is:
Vrydag – 09:35: Crusaders teen Waratahs in Sydney; 11:40: Brumbies teen Hurricanes in Canberra.
Saterdag – 09:35: Highlanders t Blues in Dunedin; 11:30: Reds teen Rebels in Brisbane; 17:05: Stormers teen Kings op Nuweland in Kaapstad; 19:10: Toyota Cheetahs teen Bulle in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein.