Vuurwapenbeheerwet – landbou skop vas

0
823

Vrystaat Landou (VL) sê dat selfverdediging elke mens se reg is en nie deur die staat aan bande gelê kan word nie.

Dit kom nadat die nuut voorgestelde wysigings aan die Vuurwapenbeheerwet Vrydagaand in die Staatskoerant afgekondig is. Die wysigings behels onder meer dat die besit van vuurwapens vir selfverdediging nie meer geldig sal wees nie en verwyder word.

“Die blote gedagte dat die regering so ’n voorstel sal opper, in ’n land met van die hoogste moordsyfers in die wêreld, is nie net verregaande nie maar uiters ontstellend en gaan tot ʼn toename in kriminele anargie lei,” sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL). “Dit is absoluut in stryd met die bepalinge van die gemene reg wat betref die reg op noodweer (selfverdediging), terwyl die Handves van Menseregte, wat vervat is in die Konstitusie, die reg op lewe absoluut waarborg,” verduidelik hy.

Volgens Tommie Esterhuyse, vise-president van VL, het die Minister van Polisie, Bheki Cele, se onlangse misdaadstatistiekvrystelling gemeld dat 21.1% van alle moorde toegeskryf kan word aan gewapende roof, verkragtings, vigilantisme, bendevoorvalle en of weerwraak tussen die krimineel en die slagoffer. Hy noem ook dat 526 slagoffers hul lewens verloor het omdat families nie in staat was om hulself te verdedig teen gewapende kriminele nie.

“Die wetsgehoorsame burger se reg om hom of haarself te beskerm en te verdedig word nou bevraagteken, wat absurd is,” sê Esterhuyse.

Vrystaat Landbou sal eersdaags ʼn veldtog loods ten einde die voorgestelde wetswysigings op die Vuurwapenbeheerwet teen te staan.

Saamgestel deur Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za