Vuurvreter-flank groot wenner van Cheetahs-toekennings

0
711
Die woelige flank van die Toyota Cheetahs was aangewys as die span se Speler van die Jaar asook Spelers se Speler van die Jaar FOTO: MORGAN PIEK

Die Toyota Cheetahs se vuurvreter-flank, Gideon van der Merwe, was Vrydagaand die groot wenner tydens die spanne se jaarlikse toekenningsgeleentheid wat by Brandkop in Bloemfontein gehou is.

Van der Merwe, wat hom in November 2021 van die Griekwas by die Cheetahs aangesluit het, is ná ‘n uitstaande seisoen aangewys as die Speler van die Jaar. Ongelukkig het dié hardwerkende speler sy knie beseer tydens die kaptein se oefensessie voor die Curriebeker-halfeindstryd teen die Poemas.

Boonop is Van der Merwe ook as die Spelers se Speler van die Jaar aangewys.
In die 14 wedstryde wat hy in 2022 vir die Cheetahs gespeel het, het hy by nie minder nie as agt geleenthede oor die doellyn gaan kuier.

Van der Merwe sal na verwagting vroeg in 2023 terugkeer na die speelveld. In hierdie stadium gaan hy die Cheetahs se terugkeer na internasionale kompetisies mis wanneer hulle van Desember af in die Europese Uitdaagbeker speel.

Van der Merwe het aan Bloemfontein Courant gesê om die Spelers se Speler van die Jaar-eerbewys te ontvang is amper groter vir hom as die Speler van die Jaar-toekenning.

“Ek het regtig nie verwag om albei daardie toekennings te ontvang nie. Dit was regtig nogal ‘n skok vir my gewees. Ek is regtig geëerd en bevoorreg.

“Dit was die kersie op die koek vir my debuutseisoen by die Cheetahs. Ek kan regtig nie gelukkiger wees nie.

“Om die Spelers se Speler van die Jaar-toekenning te kry, is vir my amper groter. Om die stemme van jou spanmaats te kry en die ouens waarmee jy op die veld is, beteken amper meer.

“Ek kan nie wag om weer terug op die veld te wees nie.”

Ander wenners op die aand was die skrumskakel Rewan Kruger, die slot Victor Sekekete, die kaptein Ruan Pienaar en die haker Chucky van der Westhuizen.

Kruger, wat in 11 van die Cheetahs se 13 wedstryde in die Curriebeker gespeel het, het die eerbewys vir die Mees Verbeterde Speler van die Jaar ontvang. Sekekete, wat hom in 2021 by die Cheetahs aangesluit het, is as die Voorspeler van die Jaar aangewys en hy het in al 13 wedstryde in hul 2022-veldtog gespeel. Die gesoute Springbok-skrumskakel, Ruan Pienaar, het die eerbewys vir die Agterlynspeler van die Jaar ontvang.

Die Namibiese internasionale haker, Chucky van der Westhuizen, is as die Cheetahs-spanman van die jaar aangewys. Hy is deur sy spanmaats aangewys en dit was ter erkenning van sy bydrae tot die span, op én van die veld af. Die heelagter, Cohen Jasper, het die eerbewys ontvang vir die Ondersteuners se Speler van die Jaar. – MORGAN PIEK