Vurige Coetzee gaan Wêreldbeker toe

0
597
Gerald Coezee (middle) met Reeza Hendricks (links) en Anrich Nortjé (regs) saam met die Grey-Kollege seuns in die Reuniesaal tydens die aankondiging van die Proteaspan vir die 2023 Krieket Wêreldbeker in Indië. Hoewel Coetzee by St Andrews gematriekleer het, het die snelbouler ook lank skool by Grey geloop. FOTO: MORGAN PIEK

Die Protea-groep vir die 2023 IKR Krieketwêreldbeker in Indië is Dinsdagoggend in Bloemfontein bekend gemaak tydens ‘n spoggeleentheid by Grey Kollege.

Die Proteas is in die Rosestad vir die eerste twee internasionale eendagwedstryde teen Australië wat by die Mangaung Oval beslis sal word.

Die groep vir die vyf eendagwedstryde teen die vyfmalige Wêreldkampioene is een wat aan die Wêreldbeker op die subkontinent sal meeding en vir albei spanne is dit ‘n geleentheid om voor te berei.

Die hoofafrigter, Rob Walter, het Dinsdagoggend die 15-tal by Grey Kollege aangewys met die seuns by die bekende skool wat vir ‘n opwindende atmosfeer gesorg het.
Die tweede naam wat op die lys voorgelees is, was dié van die 22-jarige snelbouler, Gerald Coetzee, wat van Bloemfontein kom. Die insluiting van die voormalige Knights-krieketspeler het dalk vir sommige as ‘n verrassing gekom, maar hy het goed vir Suid-Afrika ‘A’ gespeel in hul onlangse toer na Sri Lanka.

Coetzee, wat as agttienjarige vir Suid-Afrika by die Wêreldbeker verteenwoordig het, het in ‘n stadium by Grey skoolgegaan voordat hy by St Andrews in Bloemfontein gematrikuleer het.

Grey het die meeste internasionale krieketspelers (eendagwedstryde) in Suid-Afrika opgelewer, terwyl die skool ook met die tweede meeste toetskrieketspelers spog.
Coetzee het aan Bloemfontein Courant gesê om te hoor hoe sy naam uitgelees word in sy tuisdorp en by die skool wat hy bygewoon het, was inderdaad besonders.

“Om net te sien hoe die seuns hul ding hier by Grey doen, het my herinner aan toe ek my reis hier as skoolkrieketspeler begin het. Dit het my emosioneel gemaak,” het die vurige snelbouler gesê.

“Ek het net die passie gesien en dit het my baie aan daardie dae herinner.

“Hier is ek – ek is baie geëerd en nederig om gekies te word om na ‘n Wêreldbekertoernooi te gaan. Dis ‘n baie groot voorreg en om van ‘n plek soos Bloem te kom maak dit net meer spesiaal.”

Coetzee is ‘n vurige snelbouler en Walter is van mening dat Coetzee op sy beste is wanneer hy met emosie boul.

“Gerald is op sy beste wanneer hy ‘n vuur in sy maag het en boul met ‘n bietjie emosie,” het die afrigter aan Bloemfontein Courant gesê.

“Hopelik sal hy hierdie geleentheid onthou en dit kan koester, want dit is spesiaal. Hopelik gee dit hom ‘n bietjie ekstra vuur, wat ons beslis sal neem.”

Die kaptein Temba Bavuma het op sy beurt gesê Coetzee het die regte karakter om internasionale krieket te speel.

“Gerald is nogal ‘n ou wat bereid is om te leer. Hy vat alles soos dit kom,” sê Bavuma.

“Hy weet dit is ‘n groot ervaring vir hom en ‘n groot uitdaging ook. Maar sy karakter is ideaal daarvoor en sy hart is op die regte plek om enigiets wat in sy pad kom te hanteer.”
Die eerste internasionale eendagwedstryd tussen Suid-Afrika en Australië word Donderdag by die Mangaung Oval in Bloemfontein gespeel.

Proteas Wêreldbeker-groep – Temba Bavuma (kaptein), Gerald Coetzee, Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Marco Jansen, Heinrich Klaasen, Sisanda Magala, Keshav Maharaj, Aiden Markram, David Miller, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Tabraiz Shamsi, Kagiso Rabada, Rassie van der Dussen. – MORGAN PIEK